MOSSELBAAI NUUS - Die ATKV Hartenbos-straatmyl, die oudste straatmyl in Suid-Afrika en derde en laaste been van die Eden-straatmylreeks wat einde verlede jaar (21 Desember) op Hartenbos plaasgevind het, is in beide afdelings deur Potchefstroom-atlete gewen.
Die eerste wedloop, die Klein Karoo-straatmyl het op 16 Desember op Oudtshoorn plaasgevind terwyl die tweede wedloop, 'n baanbyeenkoms naamlik die Noordwes-Universiteitmyl, op 18 Desember, óók op Oudtshoorn plaasgevind het.
Met die begin van die Hartenbos-wedlope op 21 Desember was die wenner van beide die mans en vroue ope grand prix-pryse nog onseker.
In die mansafdeling het Ryan Mphahlele, wenner van die eerste twee wedlope in die reeks, besluit om nie vir die Hartenbos-wedloop in te skryf nie. Hy het verduidelik dat in 2018, toe hy wel aan al drie wedlope deelgeneem het, erg gesukkel het om te herstel van die intensiteit van die drie harde wedlope binne 'n bestek van vyf dae.
Dié besluit van Mphahlele het 'n geleentheid geskep vir Keletso Mokhonoana (Tembisa-atletiekklub) en Jerry Motsau (Boxer-atletiekklub) om die grand prix-prys in die reeks te wen.In die vroue grand prix-kategorie was Simonay Weitsz (Tuks) 'n enkele punt voor die 16-jarige Danielle Verster (Potch Gimnasium).
Die 16-jarige Danielle Verster het die vroue-wedloop op Hartenbos gewen.
Op die ou end was dit die atlete van Potchefstroom, wat deur die oud-Springbokegpaar Jean en Alta Verster afgerig word, wat beide die mans en vroue ope gewen het.
Motsau, wat werksaam is aan die Hoë Prestasie Instituut (HPI) van die Noordwes-Universiteit, het aanvanklik teruggehou en sy eindpoging vir die laaste 400 meter gespaar. Sy tyd in die eerste posisie was 4:05,62 met Mokhonyana tweede in 4:06,47 (dit was sy derde tweede posisie van die reeks) en junior Luan Munnik (NWU) derde in 4:08,60.
Die vroue ope myl het, anders as in die geval van die manswedloop, vinnig begin met die eerste 400 meter wat in 67 sekondes bereik is. Dalk was dit in 'n poging om die 16-jarige Verster, wat die 18de se wedloop met 'n sterk eindpoging oor die laaste 250 meter van haar teenstanders weggehardloop het, af te skud.
Verster het ten spyte van die vinnige begin deurentyd binne trefafstand van die voorlopers gebly en oor die laaste 500 meter verby Beiling (UVS) geskuif en aangehou om die gaping te rek. Sy het in 4:55,17 gewen met Weitsz tweede in 4:56.68 en Beiling derde in 4:56.86.
Jerry Motsau was eerste oor die wenstreep op Hartenbos.
Verster se sege het haar gehelp om die die vroue ope grand prix prys te wen. Motsau se oorwinning en Mokhonyana se derde tweede posisie het daartoe gelei dat die twee atlete die mans ope grand prix-prys deel.
Die ATKV Hartenbos-straatmyl is die moeilikste van die drie roetes met 'n paar stewige bulte en 'n haarnaald draai op die halfpadmerk.
Tydens die prysuitdeling het Hans van der Veen van die plaaslike reëlingskomitee oor die visie met die reeks wat in oorleg met nuwe titelborge ontwikkel sal word, gepraat. Hy het verwys na hoe die 2019 se voortbestaan in sy huidige formaat, bedreig is met die onverwagse verlies van sy hoofborg. Dit was slegs deur die laat toetrede van Noordwes-Universiteit en die verhoogde borgskap van Vrystaat Universiteit wat die organiseerders in staat gestel het om steeds drie bene in die reeks aan te bied.
Hy het al die borge wat dit moontlik gemaak het om voort te gaan om die reeks as 'n geleentheid om plaaslike talent te ontwikkel, geloof vir hul betrokkenheid.
DB Prinsloo van die Universiteit van die Vrystaat en Jean Verster van Noordwes-Universiteit het aangedui dat hulle beplan om in 2020 die gesamentlike titelborg van die Eden-straatmylreeks te word. Die formaat van die reeks sal grootliks bly soos dit tans is met enkele byvoegings soos 'n "mob"-myl vir nie-atlete.
Vanjaar se nuwe baanmyle by die De Jager-atletiekstadion het baie positiewe terugvoer ontvang en daar word beplan om 'n paar addisionale baanitems by die 2020 program te voeg. Die fokus sal egter steeds op die myl bly.
Vir meer inligting en volledige uitslae besoek www.edenmiles.co.za.
Die vroue-wedloop op Hartenbos pas uit die blokke.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'