Elke span besaan uit 16 deelnemers en afstande wat deur die onderskeie deelnemers afgelê moet word, wissel tussen 1,6km en 3,4km. Om hierdie geleentheid moontlik te kon maak, het Bobbie van Schalkwyk van Hartenbos Eiendomme besluit om betrokke te raak in die vorm van 'n borgskap. Hy het die Drawwers verse-ker van 'n blywende vennootskap deur hierdie geleentheid te borg.
Die Elande van die Heuwels sal hierdie jaar die wedloop reël.
Jaco Karg se Koedoespan is op hierdie stadium die gunstelinge om die aflos te wen. Cecile Nel se Elande, wat bekend staan as die "Veearts se Elande" van Hartenbos Heuwels, word deur dr Frans de Graaff van Hartenbos Dierekliniek geborg.
Die Elande self spog met goeie atlete in hulle span. Pieter Smit se Gemsbokke van Mosselbaai en Antoinette du Preez se Swartwitpense van Heiderand is self baie geheimsinnig en niemand weet wat hulle in die mou voer nie.
Dirk Joubert se Waterbokke van Kleinbrak is ook 'n span wat nie onderskat moet word nie. Bianka van Schalkwyk se "Spookasems" van die Heuwels is die enigste kinderspan wat ingeskryf het.
Bobby van Schalkwyk van Hartenbos Eiendomme het die medaljes geborg. Van die ou manne wat al baie medaljes gesien het, sê dit is een van die mooiste medaljes wat nog gesien is. Hierdie medalje het die Eland se kop op, wat 'n unieke reeks gaan word van al die groot boksoorte in Suid-Afrika.
Die drawwers spring om 08:00 by die Hartenbos Engen Vulstasie weg en volg 'n sirkelroete na Brandwag, die Geelbeksvleipad na Reebok, af met Kusweg deur Kleinbrak en terug na Hartenbos.
Na die aflos beplan die klub dat die kinders 'n boom moet plant en nuwelinge word op die tra-disonele manier "verwelkom" - jy moet kaalvoet op Brandwag (Bosbokvel) staan, druiwe korrels in mampoer wat die Bosbok se mis voorstel, sluk, en dan Timjan drink wat die fynbos voorstel en wat afgesluk word met 'n Bosbokkie in 'n glasie wat die klub aan jou skenk.
Dan moet jy 'n paar gevleulde woorde sê wat in die die argiewe neergepen word.
Daarna gaan die klub 'n bak kouewater met ys op die klub se voorsitter, Gerhard Fourie, uitgooi vir die J9 fondsinsameling van Joost van der Westhuizen.
Hartenbos Drawwers sien uit na die aflos. Na alles word die dag afgesluit met n bring-en-braai.

Bobby van Schalkwyk van Hartenbos Eiendomme oorhandig die medaljes
aan Werner Rademeyer klubkaptein van die Drawwers.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'