MOSSELBAAI NUUS - “Selfs al slaag jy nie hierdie jaar nie, is daar altyd weer ’n volgende kans om eksamen te skryf. Daar is hulp beskikbaar, ook maatskaplike ondersteuning by skole, veral as leerders oorweldig voel. Fokus net en kyk vorentoe.”
Dit is die boodskap van ‘n Mosselbaaise oudskoolhoof aan matrieks wat more hul uitslae gaan ontvang.
Sharlton Groenewald moedig leerders wat druip aan om bloot net weer deur die proses te gaan, hard te werk en hereksamens te skryf.
Groenwald beklemtoon dat druip nie die einde van die wêreld is nie.
“Daar is hereksamens en tweede kanse. Doen dit net weer, sit meer in as voorheen.
Die ervarings wat jy deur studies opdoen, kan niemand van jou wegvat nie. Dit maak deure oop.”
Vir studente wat matriek slaag maar nie geld het vir studies nie gee Groenewald die volgende raad: “Daar is opsies soos plaaslike instansies waar studies deur die staat gesubsidieer word.”
Hy moedig leerders aan om so gou moontlik in te skryf en te begin studeer.
“As jy eers ophou, raak dit moeiliker om weer in akademiese ritme te kom. Skryf êrens in en begin.”
Groenwald sê hy glo sterk nie aan ’n “gap” jaar nie.
“In ’n jaar verloor jy nie net tyd nie, maar ook duisende rande se toekomstige inkomste. Op die lang duur is dit selde voordelig. Dit raak ook moeiliker om weer terug te keer na studies – jy moet dan van voor af momentum bou.”
Volgens hom moet die fokus eerder op die toekoms wees as op korttermyn-uitgawes.
“Ouers en leerders gee duisende rande uit aan matriekafskeid, maar dan is daar nie geld vir registrasie nie. Die prioriteit moet wees: wat nou ná skool?”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’