NATIONAL NEWS - Adjudant-offissier Jannie van der Walt van die Rustenburg polisie het getuig dat die sogenaamde ‘baasbrein’ agter die ontvoering en moorde van Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk, en een van sy werkers verdink word van die moord op Amanda Mey wat in 2014 op haar plaas in Rustenburg doodgeskiet is.
Volgens Van der Walt het die ‘baasbrein’ Mey se eiendom gekoop. Tydens die kooptransaksie het albei polisse uitgeneem. Na Mey op 24 Junie 2014 op haar plaas geroof en doodgeskiet is, het haar polis R1.8 miljoen aan die ‘baasbrein’ (verdagte twee in die Mooinooi-saak) uitbetaal.
Die werker (verdagte een in die Mooinooi-saak) is deur ‘n getuie sien weghardloop vanaf die moordtoneel, maar dié getuie het eers in Januarie 2017 na vore gekom en die werker is kort daarna op die ‘baasbrein’ se plaas in mooinooi in hegtenis geneem.
Van der Walt het getuig dat die werker na vier verskynings in die hof, op borgtog vrygelaat is en dat die saak later van die hofrol geskraap is. Met die inhegtenisname van die agt verdagtes in die Mooinooi-moorde, is die saak op die hofrol teruggeplaas.
“Ek het nog ‘n getuie in die Vrystaat opgespoor wat getuig het dat sy deur verdagte nommer twee gedreig is en dat sy gevlug het omdat sy vir haar lewe vrees. Ek het gewag vir instruksie van die direkteur van openbare vervolgings om verdagte nommer twee in hegtenis te neem.
Die agt verdagtes se regsverteenwoordigers het beswaar gemaak teen die polisiebeampte se getuienis op gronde dat die Rustenburg-saak nie relevant in die Mooinooi-saak is nie. Staatsaanklaer, Christine Molautsi het egter gesê die getuienis sal bewys dat ‘n soortgelyke modus operandi in albei moorde gebruik is.
Die borgaansoeke duur voort.