NASIONALE NUUS - In aanloop tot die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se eeufeesviering in 2026, is daar vanjaar twee bekende persoonlikhede uit die Afrikaanse kultuurwêreld as beskermpersone van die WAT se Borg ’n Woord-projek aangewys.
Kabous Meiring en Frank Opperman is vandag, 16 Oktober, Internasionale Woordeboekdag, aangekondig as beskermpersone vir die volgende jaar.
Meiring is veral bekend vir haar werk aan Dagbreek, Megaboere en Prontuit, waar temas soos landbou en sosiale ontwikkeling ondersoek word.
As filmregisseur daag sy graag stereotipes uit en sy glo in Afrika se unieke probleemoplossingsvermoë en bevorder entrepreneursdenke wat in plaaslike realiteite gegrond is.
Haar ma was die briljante joernalis en kommentator, Martie Retief Meiring, wat verlede jaar op 89 oorlede is.
Haar neef is 'n bekende in die Tuinroete, Cobus Meiring, 'n distriksraadslid en omgewingskundige van die Garden Route Environmental Forum.
Leksikografie is sexy
Volgens Meiring is daar min dinge so interessant soos die leksikografie.
“Kortom, leksikografie is sexy. Nou kry ek die kans om geassosieer te word met die Woordeboek van die Afrikaanse Taal as beskermpersoon in hul honderdste jaar.
"Ek was juis nog nooit meer hoopvol en beïndruk met Afrikaans as nou, met die aanloop na 2026, nie.”
WAT 'n voorreg!
Akteur Frank Opperman is alombekend as Ouboet in Orkney snork nie en het in verskeie televisie-, teater- en filmproduksies opgetree. Sy kragtoer as Lourens Adendorff in Nêrens, Noord-Kaap het weereens sy veelsydigheid as akteur uitgelig.
Opperman is vroeër vanjaar vir sy lewensbydrae met ’n kykNET Fiësta-toekenning vereer.
Opperman sê dis 'n voorreg om ’n beskermpersoon van Borg ’n Woord te wees. “Ek dink in Afrikaans, ek droom in Afrikaans, ek bid in Afrikaans, ek vloek in Afrikaans. Ek is Afrikaans. Ons moet iets doen vir Afrikaans en ek hoop dat ek mense kan inspireer.”
2 sluit aan by groot name
Die beskermpersone word aangewys op grond van hulle positiewe bydrae tot Afrikaans en omdat mense wat lief is vir Afrikaans met hulle identifiseer.
Die fondsinsamelingsprojek is vanjaar reeds in sy sestiende jaar.
Vorige beskermpersone sluit in: David Kramer, Charlene Lackey, Marita van der Vyver, Nataniël, Dave Pepler, Deon Meyer, Karen Zoid, HemelBesem, Tracy Lange, Laurika Rauch, Dawie Roodt, Amanda Strydom, Hannes van Wyk, Amore Bekker, Frazer Barry en Rudie van Rensburg.
Borg of koop 'n woord
Dit kos R100 om ’n woord te borg en R5 000 om dit eksklusief te koop, dan behoort daardie woord net aan jou.
Jy ontvang ’n sertifikaat met jou naam en geborgde of gekoopte woord, asook toegang tot die Aanlyn WAT vir ses maande as jy ’n woord borg of vir vyf jaar as jy ’n woord koop.
Boonop word jy ingeskryf vir ’n gelukkige prystrekking van R25 000 geborg deur Sanlam.
Klik hier om 'n woord te borg of te koop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’