Volgens Marius Jacobs, van Northern Sekuriteit, het Sumarie Lombard (18) omstreeks 20:00 onraad gemerk toe hulle hond onophoudelik begin blaf het.
Haar pa, Hans Lombard, was uit om te gaan bosvarke jag en haar ma was reeds in die bed. Op pad na die jagveld het Lombard besef sy hond, Varkie, was steeds by hom en hy het hom huis toe gejaag.
Sodoende red hy toe waarskynlik sy gesin se lewens sonder dat hy dit besef.
Daargekom het Varkie dadelik die indringers gewaar en onophoudelik en woedend begin blaf.
Sumarie het, gewapen met ‘n haelgeweer, by die voordeur uitgestap en om die huis geloop om nader ondersoek te gaan doen.
Naby die waskamer (by die agterdeur) het sy skielik gevoel iets is beslis nie pluis nie en omgedraai om terug huis toe te hardloop.
Op pad het sy deur die waskamer se venster twee onbekende mans gewaar.