BRANDWAG NUUS - Nasionaal staan die GNU nou wel vir die Government of National Unity, maar hier in die Wes-Kaap is daar ’n “Government of National Urgency”.
Só het die Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, dr. Ivan Meyer, vandag, Woensdag 20 Mei tydens ’n vergadering in Brandwag aan die boere daar gesê.
Meyer het onder meer oor sy departement se prioriteite (landbou- en besigheidsondersteuning, voedselsekuriteit en marktoegang) gesels, asook ’n prentjie geskets van die Wes-Kaap se aandeel in die land se algehele landbousektor in terme van werkskepping, uitvoere en meer.
“Kortliks: ons moet werk skep en ons moet kos op die tafel kry,” sê hy. Daarvoor moet die regering na die tafel toe kom en boere ondersteun - iets wat met ’n dringendheid aangepak moet word, meen die minister.
Ivan Meyer vertel meer oor sy departement se prioriteite.
Volgens Meyer kom 58% van Suid-Afrika se primêre landbou-uitvoerprodukte vanuit die Wes-Kaap. “Dit is júlle. Jy kan nie uitvoer sonder ’n primêre landbouproduk nie.”
Een van sy groot fokuspunte is ekonomiese diplomasie, iets wat hy geïllustreer het deur meer oor sy verskeie onlangse oorsese besoeke (onder meer aan Duitsland en Frankryk) te deel. Hy sê 96% van alle produkte wat van Suid-Afrika na die Europese Unie uitgevoer word, is vrygestel van handelstariewe.
“Dis hoekom my oë en energie nou op die EU gefokus is.”
Meyer het ook aan verskeie uitdagings wat boere in die gesig staar geraak; bek-en-klouseer was natuurlik een daarvan.
Boere en ander belangstellendes by ’n vergadering met die Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, dr. Ivan Meyer, in Brandwag.
Hoewel ’n langer vraag-en-antwoord-sessie deel van die vergadering se beplanning was, was daar slegs tyd vir een persoon om sy vraag te vra. Dit het oor watersekerheid, of eerder die gebrek daaraan, en die regering se plan rondom dit gehandel. Meyer sê hoewel dit ’n funksie van die nasionale regering is, werk die Wes-Kaap aan ’n plan om waterkwessies aan te spreek.
Net voor die vergadering verdaag het, het ’n boer in die gehoor voorgestel dat daar in die vervolg by sulke vergaderings genoegsame tyd gelaat word vir die teenwoordiges om vrae te vra, aangesien die plaaslike boere met werklike ernstige kwessies sit wat hulle graag sal wil bespreek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’