VLEESBAAI NUUS - Die VLV Voëlvlei se mees onlangse samekoms was in die vorm van ’n Tuin-tot-tafel-onthaal.
Die tak se leefstylsaamroeper, Sandra Nolte, het lede op 23 Junie in Vleesbaai vir dié onthaal verwelkom en ook die geleentheid gelei.
Anne Marie Stander het die saal met blomme, blare, sade en produkte uit haar yskas en tuin in ’n ander wêreld omtower.
Die sop-en-broodtafel het met ’n ongelooflike rangskikking van vars produkte gepronk, insluitend pampoenskywe, soetrissies, gedroogde lemoenskil en uiesaadblomme. Sy het ook ’n antieke skaal gebruik en ’n rangskikking in die bak geplaas.
Stander het verduidelik hoe maklik dit is om met min en beskikbare materiale, kreatief te werk te gaan om mooi onthaaltafels te skep.
Daarna het sy ’n demonstrasie gelewer van hoe ’n mooi kantoenlap met byewas en gomhars behandel kan en dan vir vele doeleindes gebruik kan word, soos bedekking van ’n slaaibak of toedraai van kaas.
Laastens het sy ook gewys hoe servette op kreatiewe maniere gevou kan word. Vir hierdie deel moes lede servette saamneem en het die oefening entoesiasties saam met Stander aangepak.
Lede het ook verskeie ander interessanthede tydens die onthaal gedeel. Die feit dat jy ’n aangebrande strykyster met ’n paracetamol-tablet kan skoonmaak is bespreek, asook ’n resep vir kits lemonade, die verskil tussen skilferkors en broskors en laastens bietjie meer oor selei, ’n soort gekookte fynkonfyt van die volgende vrugte: appelkoos, pruim, kweper, moerbei en appel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’