MOSSELBAAI NUUS - 'n Opgewonde groep van 29 VLV-lede het onlangs by die Western Cape Butterfly Sanctuary buite Ruiterbos bymekaargekom vir hul jaarlikse uitstappie.
Lede het aandagtig geluister na die gids, wat inligting oorgedra het oor die lewensloop van skoenlappers.
Redes vir hul besondere patrone, kleure, groottes, voedsel- en habitatvoorkeure is met lede gedeel.
"Dit het die lede met verwondering gelaat oor die grootheid van die Skepper van ons Moeder Aarde en haar bewoners," sê Elize Locke, voorsitter van die VLV Voëlvlei-tak.
Lede het in verwondering deur die vlindertuine gestap en geesdriftig foto's geneem om later by die huis te wys.
Met hul terugtog het hulle aangedoen by Misty Valley waar die sjef gedemonstreer het wat hy alles kan skep met suiker van die suikerbeet.
Tussendeur is talle fynproewergeregte bedien.
Botterkerse in verskillende geure, verskeie vleisborde, swart kraakbeskuitjies, 'n warm groentegereg en 'n fees van fyn nagereghappies het die monde behoorlik laat water!
Almal is in goeie gees terug huis toe en sal die besonderse uitstappie nog lank onthou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’