Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Vyf visuele gestremde persone waarvan twee van die Hartenbos area is, het onlangs die nuwe infrastruktuur en tegnologie op die Go George-roete in George uitgetoets.
Amanda Bester en haar gidshond, Odi en Diane du Plessis met Akari, het verlede week 'n verjaarsdagpartytjie gehou om die honde se 21ste verjaarsdag in mensjare te vier.
Dié twee honde is sibbes en sedert Diane verlede jaar hierheen verhuis het, is hulle en hul eienaars 'n bekende gesig in die Hartenbos-omgewing met lang staptogte op die strand.
Reginald Smal met sy witstok en Corrie Brits van Belville en sy hond Melvin, het spesiaal hierheen gereis vir die verjaardag-vieringe en die uittoets van die nuwe fasiliteite. Amanda vertel dat hulle in Marketstraat afgestap het en dat die sypaadjie breër gemaak en geteer is. "Die oppervlak is nou gelyk en glad wat dit baie lekker maak vir mense in rystoele, met gidshonde en wit stokke en ook ma's wat met stootwaentjies daar stap.
Naby die robot is daar 'n afrit (ramp) in die sypaadjie met cobblestone sodat ons kan voel waar die hoek van die sypaadjie is om die pad oor te steek. Die verkeerslig het 'n lekker groot knop en 'n pyltjie waaraan ons kon voel om te wys in watter rigting jy moet stap. As jy die knop druk is daar 'n geluid soos 'n buzzer wat aandui of die lig groen of rooi is. Die bushalte waar mense opklim, is bloedrooi. Die helder kontras in kleur is belangrik vir swaksiendes om makliker te onderskei tussen voorwerpe."
Positiewe ervaring
Amanda vertel verder dat die bushalte 'n sementblad het met gleuwe waarin 'n witstok pas wat aandui in watter rigting jy moet gaan. "As die bus dus stop, staan jy presies op die regte plek. Die bus het nie trappe nie, maar 'n klein platform wat uitkom waar 'n rystoel met gemak kan opry en ons met die honde kan opklim.
Daar is ook 'n spesiale plek waar ons kan sit met genoeg plek vir die honde om te lê. Op die bus is daar 'n stemopname wat aandui watter bushalte volgende is en ook die tydsduur tot daar.
"Ons het die dag baie geniet en dit baie positief ervaar. Visueel gestremdes se grootste probleem is vervoer, omdat hulle altyd van ander mense afhanklik is om hulle rond te ry. Die Go George inisiatief is 'n wonderlike aanwins vir die dorp. As ek in George gebly het sou ek dit baie gebruik het. Dit gee gestremde mense 'n onafhanklikheid van beweging wat hulle baie nodig het."
Diane du Plessis voel dat die stelsel deur die hele land geïmplementeer moet word. "Die inisiatief is ook iets wat bejaarde mense en ander gestremdes kan benut. Ons gaan stap dikwels in Hartenbos met die plaveisel wat ongelyk is weens boomwortels en die padtekens wat te laag is met skerp punte waarteen jy jou kop kan stamp.
Selfs die wandelpad op die strand is soms moeilik met sandduine wat op die pad vorm weens die wind. Ons kom dit eers agter as die honde huiwer, omdat hulle onseker is oor die versperring. Dit sal wonderlik wees as die infrastruktuur in die Mosselbaai-omgewing ook soos die in George aangepas word."
Volgens James Robb, die waarnemende openbare vervoer oorsigbeampte van die George-munisipaliteit is Universal Accessibility (UA) een van die top prioriteite van die Go George-busdiens. Die busdiens word baie geprys vir hul progressiewe en innoverende benadering om passasiers met gestremdhede of spesiale behoeftes te akkommodeer.
"Ons het vanselfsprekend foute in die verlede gemaak, maar ons hou aan leer en werk voortdurend aan nuwe maniere om ons dienste vir alle passasiers te verbeter."
Video - Amanda Brits en Diane du Plessis vertel van hul ervaring om die Go George bus uit te toets.
Video - Amanda Bester vertel hoe skrikkerig mense in die bus was vir die gidshonde.
Video - Diane du Plessis talks about the challenges in Hartenbos for visually impaired people.
Video - Amanda Bester en Diane du Plessis met Odi en Akari.
Die spesiale platform wat dit vir die gidshonde en hul eienaars, rolstoele en stootwaentjies baie makliker maak om in die bus te kom.
Corrie Brits met sy gidshond, Melvin en Reginald Smal met sy witstok op die Go George bus.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’