GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die polisie op Groot-Brakrivier het vanaf gisteraand, 20:40 op 25 Julie tot vanoggend, 03:00 verskeie oproepe van angstige inwoners ontvang wie se wonings met albasters geskiet is.
Die polisie se kommunikasiebeampte, sers Laurianne Botha sê reeds vier sake is by die polisiestasie aanhangig gemaak.
Die Midbrak Buurtwag het gisteraand verskeie boodskappe van inwoners in die Reebok-omgewing ontvang wie se vensters in die proses stukkend geskiet is.
Die buurtwag het bevestig dat minstens 19 wonings in die volgende strate geteiken was: Impala, Kruisbessie, Did-dik Singel, Tsessebe, Kaaimans en Noordsig.
Botha sê hulle het hulle hande vol gehad. Sy sê inwoners het aanvanklik gedink daar word met vuurwapens op hul wonings losgebrand.
“Ons het ondersoek ingestel en het bevind dat die wonings met albasters geskiet is. Ons weet egter nog nie met behulp van wat die albasters geskiet is nie.”
'Ons bring jou die nuutste Groot Brak, Tuinroete nuus'