MOSSELBAAI NUUS - Die bome wat Maandag 16 Maart deur ’n kontrakteur van die Mosselbaai-munisipaliteit langs Marshstraat verwyder is, is uitheemse bloekombome.
Inwoners het hul kommer hieroor uitgespreek nadat die munisipaliteit ’n kennisgewing oor die verwydering van die bome uitgereik het.
Volgens die Mosselbaai-munisipaliteit is die bome ná deeglike risiko-assesserings verwyder.
Die munisipaliteit se woordvoerder, Cornelle Carstens, sê die betrokke bome was reeds die oorsaak van verskeie voorvalle van infrastruktuurskade aan geboue van die Suid-Afrikaanse Polisiediens sowel as munisipale geboue.
“Dit sluit spesifiek ’n belangrike substasie in wat elektrisiteitsvoorsiening aan die sentrale sakegebied en omliggende areas lewer en wat in die onmiddellike omgewing van die bome geleë is,” sê Carstens.
Die bome wat verwyder is. Foto: Mosselbaai-munisipaliteit.
Carstens voeg by dat die Mosselbaai-munisipaliteit sedert 2022 meer as 13 000 bome regoor Mosselbaai aangeplant het as deel van die munisipaliteit se voortgesette vergroeningsinisiatiewe.
“Die fokus is op inheemse bome,” sê sy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’