MOSSELBAAI NUUS - Na 36 jaar op die verhoog word Nataniël wyd gerespekteer as sanger, skrywer, storieverteller en stylikoon met sy asemrowende kostuums.
Nataniël besoek Mosselbaai in September en hou 'n vertoning by Hoërskool Punt se skoolsaal op Vrydag, 15 September.
Vier gelukkige lesers kan kaartjies vir die vertoning wen.
Dit is dubbelkaartjies en die lesers wat eerste 'n koerantuitknipsel van hierdié artikel op vandag, Vrydag 1 September, aan die ontvangsdame by die Mossel Bay Advertiser wys, wen die kaartjies. Die kaartjies is R300 elk werd. Mosselbaaiers kan kaartjies vir die konsert by die finansiële kantoor by Hoërskool Punt aankoop.
Waarvan hou jy van Mosselbaai?
Ek het Mossselbaai al 'n paar keer besoek, maar my heel eerste memories was die lekkerste, dit was as begeleier van Danel Pascal. Ons het een of twee keer konserte in Mosselbaai gehou en ek onthou ons was getreat in 'n restaurant wat fantasties was. Ek dink ek het alles geëet op die spyskaart, want dit was in die jare voor ek 'n vegetariër was. Intussen was ek bitter min op Mosselbaai. Ek onthou jare terug 'n konsert op Mosselbaai, wat ek dink agt en 'n half mense voor opgedaag het, want ek dink dit was deur iemand buite die dorp aangebied.
Wat het jy gisteraand geëet?
Ek het met intermitted fasting begin vyf dae gelede en ek eet net in die aand en gisteraand het ek van die lughawe hier aangekom en iemand het vir my twee KitKats in die kombuis gelos en ek was so honger ek het dit onmiddelik geëeet en van skuldgevoelens nog niks weer nie tot nou toe nie.
Wat is jou gunsteling maaltyd?
Ek dink dit is 'n braaibroodjie. Maar dit moet gesmeer word aan die binnekant, nie met botter of margarine nie maar met goeie mayonaisse en dan is daar net tamatie en uie op en 'n paar krummeltjies suiker en 'n paar krummeltjies sout en peper en dan maak jy dit toe onder 'n lappie en laat staan dit vir 'n dag voor jy dit braai. Deesdae kan ons op 'n lugbraaier braai so iemand soos ek kan nou 'n braaibroodjie maak.
Hoe voel jy oor die kritiek wat sekere mense gegee het na aanleiding van jou onlangse opmerking oor Chinese?
Ek het vrede met kritiek omdat ek myself se grootse kritikus is. Ek is iemand wat myself daagliks kasty oor foute wat ek maak en goed wat ek doen en dinge waaroor ek onseker is. Ook oor elke nuwe show wat ek vas in my hart glo is nie goed genoeg nie, oor hoe hard ek werk. Maar dan praat ek met 'n sielkundige, met 'n dokter, met 'n predikant, met 'n regsgeleerde, met 'n meester van teater, met die beste skrywer met wie ek kontak het. Oor kritiek van die publiek kan ek my nie steur nie, ek sal 'n hartaanval kry as ek na een luister, want mense sê goeters sonder om 'n regte situasie te ken.
Wat is die eerste ding waarna jy kyk wanneer jy soggens wakker word?
My tuin lyk soos 'n woud, ek bly nie in 'n gemaakte tuin nie, ek bly in 'n bos van bome en duisende ivy (klimop) en boomstompe en dit is net groen. So elke oggend druk ek 'n knop en my elektriese blindings gaan op en dan kyk ek in 'n groen skildery vas. Dit is hoe my dag begin. Daar is verskriklik baie voëltjies en ek het 'n skilpad in my tuin wat self opgedaag het en 'n meerkat en vier parakiete en ek't niemand genooi nie en tot 'n slang wat party oggende op die houtdeck buite tan, dan klop jy net aan die glasdeur en dan gaan hy weer.
Het jy 'n heel beste vriend/vriendin wat jy met jou hele hart en al jou geheime vertrou?
Ek het 'n heel beste vriend met wie ek eerste in die dag en in die middel van die dag en die laaste mee praat in die aand en met wie ek alles deel, dit is 'n soulmate wat dink soos ek maar ek het ook 'n klein groepie ongelooflike vriende, elkeen op 'n ander gebied een met kuns, een met die lewe, een met familie, een met ouers, daar is 'n klein groepie mense wat my regop hou.
Wat irriteer jou die meeste van 'n gehoor wanneer jy op die verhoog is?
Ek is nie veronderstel om geïrriteerd te raak deur 'n gehoor nie, want hulle is my kliënte, hulle betaal om my te sien. Wat my die meeste verstom is dat mense nie hulle selfone kan afsit nie. Ek dink met nostalgie terug aan my loopbaan, wat jare was, meer as 10 jaar, voordat daar 'n selfoon verskyn het en hoe fantastiese teater was. Dat iemand betaal om na jou te kom kyk en nie hulle foon kan afsit nie, is verskriklik. Ek gaan nie na iemand anders se werkplek en versteur hulle nie.
Wat doen jy op Sondaemiddae?
Ek lees. Dit is my enigste tyd wat niemand my pla nie. Ek lees op elke vliegtuig omtrent 'n boek deur. Ek het stapels boeke in my huis wat nog nie gelees is nie.
Is jy bang vir die dood?
Nee. Ek is bang dat die mense wat nog van my afhanklik is, die mense wat ek versorg, die mense wat my familie is, wat ek hulle sal nalaat sonder dat ek behoorlik seker is almal is veilig, almal is versorg, almal is reg en so aan. Dit is my grootste vrees dat so iets met my sal gebeur terwyl my ma nog lewe of terwyl daar nog iemand is wat van my afhanklik is.
Sal jy ooit weer jou hare groei?
Ek het net drie verskriklike krullerige hare in my lewe gehad en dit het my miljoene rande gekos om daai drie plat te gel. As jy nie hare het nie is dit 'n baie eienaardige konsep dat daar iets wat jy nie nodig het nie uit jou kop uitgroei. Dit is soos 'n potplant met oë.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’