Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS - 'n Oer-oue sportsoort wat wêreldwyd beoefen word, het nou selfs hier in die Mosselbaai-area begin posvat en deelnemer-getalle word by die dag groter.
Twee plaaslike inwoners, Louis de Klerk (32) en Monique Maritz (29), het aan die Suid-Afrikaanse Armdruk-byeenkoms deelgeneem, wat die afgelope naweek in Pretoria by die Wild Wings kroeg aangebied is.
De Klerk, 'n gekwalifiseerde sportwetenskaplike, het sy klub WellneZone ses jaar gelede in Centurion tot stand gebring. Nadat hy Maritz ontmoet het, het hy twee jaar gelede Fraaiuitsig toe getrek waar Maritz reeds 11 jaar woon.
Hulle het 'n klub hier in Fraauitsig gestig en het nou 10 lede, van hulle so jonk as 16 en die oudste lid is ouer as 50.
Daar is ook twee vroue wat deel is van die klub. "Armdruk is nog 'n klein sport as jy dit vergelyk met rugby en ander sportsoorte," sê Maritz.
WellneZone konsentreer op fiksheid en spesifieke oefeninge met Louis aan die stuur terwyl Monique die skoonheids-afdeling bedryf. Saam egter het hulle ook dan 'n armdruk-klub begin onder dieselfde naam.
De Klerk het jare gelede begin met die sport en doen dit reeds ses jaar professioneel. Tans weeg hy 82kg en het verskeie plekke by die SA senior mans-kompetisie in die verskillende gewigsafdelings behaal. Armdruk-kompetisies word met die regterhand, linkerhand of albei gedoen.
In 2020 behaal hy 'n 2de plek links en regs in die o.70kg. In 2021 in dieselfde gewigkategorie was hy 2de links en 3de regs. In 2022 in die o.78kg verwerf hy 'n derde plek links en 4de plek regs. Verlede naweek het hy 'n 4de plek links gekry.
De Klerk moes hard werk om Maritz te oortuig om ook aan die sport deel te neem. Sy was aanvanklik skepties, maar 'n jaar gelede is sy uiteindelik oortuig. Ná hy haar in die tegnieke geskool het, het Maritz ernstig begin oefen en drie maande gelede het sy in die Kaap aan haar eerste kompetisie deelgeneem.
Oortref haarself
Verskeie klubs van die Wes-Kaap het deelgeneem terwyl die Suid-Kaap deur Mosselbaai verteenwoordig was. Maritz het haarself oortref met 'n eerste posisie en met genoeg vertroue is daar besluit om haar ook vir die nasionale byeenkoms in te skryf.
Onder die senior vroue 75kg+ was haar opponent die SA kampioen, Natasha Meintjies, wat Suid-Afrika twee maande gelede in Istanbul verteenwoordig het.
En daar oortref sy haarself toe weer en slaan twee eerste plekke los, links en regs."Ek het haar gewen, ek kon dit nie glo nie," vertel sy "Dit was 'n groot eer om Mosselbaai daar te kon verteenwoordig." Met die twee nuwe medaljes gaan deure nou vir haar oop en het sy al verskeie uitnodigings ontvang.
Sy is uitgenooi na 'n kompetisie in Maleisië en ook na 'n vroue-dag in Pretoria. Die Wes-Kaapse klubs het agt goue, vyf silwer en vyf bronsmedaljes verower.
Die beheerliggaam van dié sport in Suid-Afrika, die Armwrestling Association of South Africa (AASA), het sedert 2003 al SA Nasionale kampioenskappe aangebied. In 2002 is die South African Arm Wrestling Federation (SAWFU) gestig maar is in 2020 gealmalgeer as AASA. 'n Afrika Ope byeenkoms, die Europese kampioenskappe en verskeie ander kompetisies wêreldwyd word aangebied onder die vaandel van die International Federation of Armwrestling (IFA).
Kompetisies vind plaas in verskillende ouderdomme en gewigskategorieë soos o.65kg, o.75kg, o.85kg, o.100kg, 100kg, meesters en gestremd o.75kg. Soms wissel die gewigskatergorieë.
Armdrukkers benodig nie gesofistikeerde toerusting om deel te neem nie maar moet egter hul arms, gewrigte en vingerspiere oefen en dan verskeie tegnieke, wat bemeester moet word. Vir meer oor die armdruk sport kontak Louis de Klerk of Monique Maritz. (072 402 4401 of 073 800 8312). Volg die klub op Tik Tok.
VIDEO - Twee goue medaljes in armdruk kom Mosselbaai toe (Video: Jannie du Plessis).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'