MOSSELBAAI NUUS - 'n Drie-en-dertigjarige taxibestuurder wat 'n drawwer op Hartenbos raakgery en van die toneel weggejaag het, is kort na die voorval in hegtenis geneem.
Da Gamaskop-polisiewoordvoerder kapt Wollie Fourie sê die voorval het op Sondag, 16 Desember om 06:30 in Port Natalweg, Hartenbos plaasgevind.
"Die man en vrou is van Sandton afkomstig en tans met vakansie op Hartenbos. Hulle het gedraf toe die taxi die man raak gery het. Die bestuurder van die taxi het van die toneel weggejaag maar is dieselfde middag gearresteer."
Fourie sê die slagoffer is in 'n hospitaal op Mosselbaai vir beserings behandel en is dieselfde dag ontslaan.
"Hy het Maandag 'n verklaring by die polisiestasie afgelê."
Die taxibestuurder het op Dinsdag, 18 Desember in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op 'n aanklag van roekelose- en nalatige bestuur en 'n aanklag van die versuim om by 'n botsing te stop.
Die voorval volg op 'n string motorbotsings in die Wes-Kaap. Verkeershoof, Kenny Africa sê tussen 14 en 17 Desember is altesaam 37 mense op paaie in die provinsie dood, waarvan minstens agt voetgangers was wat doodgery is. Africa doen 'n beroep op motoriste om nie te bestuur wanneer hulle moeg is nie.
"Rus eerder en stop op 'n veilig plek waar jy vir 'n paar uur kan slaap voordat jy verder bestuur."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'