MOSSELBAAI NUUS - Familielede van Gertruida (Truitjie) Rall het Woensdag gesellig saamgekuier as 'n voorloper tot die ou dame se eeuwording wat vandag gevier word. Tant Truitjie, soos almal haar ken is op 18 Mei 1918 gebore.
Tans 'n inwoner van Onse Rus-tehuis, geniet sy nog goeie gesondheid. Sy sukkel net 'n bietjie met haar gehoor en haar sig is nie meer heeltemal so skerp nie.
Desnieteenstaande, was sy baie opgewonde oor die ou foto's wat 'n neef, Louis Spies uit Kaapstad saamgebring het vir die vieringe. Louis en sy vrou, Leana bedryf 'n gastehuis in Groenpunt en het spesiaal vir Tant Truitjie se verjaarsdag Mosselbaai toe gekom.
Die twee het boonop onderweg, 'n spesiaal versierde wortelkoek, Tant Truitjie se gunsteling by 'n tuisnywerheid op Heidelberg, haar vorige tuisdorp, opgelaai.
Louis se vrou, Leana verduidelik dat met kuiers by Tant Truitjie se huis op Witsand, die tante altyd van dié besonderse lekker wortelkoek saamgebring het uit Heidelberg.
Gebore op Caledon, het Tant Truitjie later jarelank saam met haar man, Piet in die Heidelberg-distrik geboer. Na sy afsterwe in 1983, het sy nog 'n paar jaar alleen die boerdery bedryf.
Sy het later hulle plaas verkoop en 'n kleiner plasie in die distrik gekoop. Hier het sy met druiwe geboer. Op haar dag was sy een van KWV se mees vertroude druiweverskaffers.
Gertruida (Truitjie) Rall as 'n jong vrou van 33.
Tant Truitjie het nie kinders van haar eie gehad nie, maar is voorwaar 'n familiemens. Dit blyk duidelik uit die mooi verhouding wat sy met Louis, wat sy al die jare nog Oubaas noem, het.
Tant Truitjie deel sedert haar verblyf in die Onse Rus-tehuis, 'n kamer met haar suster Hendrina (Meisie) Olivier (89). Van 'n gesin van sewe kinders, is dit nog net hulle twee wat oor is, vertel die susters.
Steeds 'n vonkel in die oog op 100-jarige ouderdom. Tant Truitjie Rall saam met haar neef en sy vrou, Louis en Leana Spies.
Hulle is onderskeidelik die tweede oudste en tweede jongste.
"Jy moenie alles glo wat hulle jou vertel nie," vermaan Tant Truitjie ewe. Dan vang haar oog die groot verjaarsdagkoek versier met die klomp 100's. "Kyk, by my verjaarsdag is 'n koek wat 100 jaar oud is." Sy lag alte lekker vir haar grappie en almal lag saam.
Dan raak sy ernstiger. "Dis 'n verassingsverjaarsdag om 100 jaar oud te word. Ek wil nog dinge doen."
Susters en kamermaats, Truitjie Rall en Meisie Olivier.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'