MOSSELBAAI NUUS - The Saint's Messengers mannekoor is in 1980 deur eerstejaar-studente van 'n koshuis van die Universiteit van Wes-Kaapland gestig, met die uitsluitlike doel om God se naam met sang te verheerlik en vir die afgelope 44 jaar is sang vir die groep 'n selfopgelegde lewenstaak en nie vermaak nie.
As deel van hul Kersfeestoer wou The Saint's Messengers graag op Maandag, 16 Desember, in samewerking met 'n plaaslike gemeente, 'n sangaand op Mosselbaai aanbied.
Gasheer
St Peter's Anglikaanse kerk in Marshstraat het die geleentheid aangegryp en sal as gasheer vir dié talentvolle groep mans optree.
Die mannekoor het al verskeie kere in die Suid-Kaap opgetree en is dus nie onbekend in die omgewing nie.
Opname
Oor die jare het die mannekoor reeds ses CD's die lig laat sien en is tans besig met die opname van 'n sewende CD.
Twee van die lede was betrokke by die Wes-Kaap Onderwysdepartement, maar albei is nou pensioenarisse.
Christopher Banda was Afrikaanse vakadviseur en Archie Lewis was adjunk direkteur-generaal: Onderwysbeplanning.
Sekretaris
Banda is die sekretaris van The Saint's Messengers mannekoor en kan gekontak word by 082 578 2497 vir meer inligting.
Vir kaartjies, kontak Claire du Plessis (079 497 6156).
"Ons vertrou dat Mosselbaaiers en plaaslike gemeentes dié geleentheid om God se koninkryk deur middel van sang te vier, sal ondersteun," sê Du Plessis, een van die organiseerders van die optrede.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’