Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Dit het behoorlik soos Kersfees gevoel toe die Mossel Bay Community Soup Drive Saterdag, 18 Desember hulle straatpartytjie gehou het.
Vanjaar se partytjie, wat reeds maande in beplanning is, het weer eens oud en jonk na Learjetstraat, Civic Park gelok. Learjetstraat is toegemaak vir die partytjie.
Van 12:00 af het die jongklomp op springkastele baljaar, maar hulle is deurentyd herinner daaraan om hulle maskers korrek te dra. Ander Covid-19-maatreëls, soos die aanwending van handreiniger, is ook by die toegangspunte gedoen.
Terwyl Melvin Damons, oftewel DJ Melly agtergrondmusiek gespeel het, is daar sommer spontaan saamgedans. Raadsheer Dirk Kotzè, uitvoerende burgemeester, asook ander raadslede het die geleentheid bygewoon.
Die vermaaklikheidsprogram het optredes deur plaaslike talent ingesluit, onder meer die jong Beyonce Prinsloo, 'n leerder van Hoërskool Sao Bras wat dringend op 'n nieroorplanting wag. 'n Deel van die program was ook daarop gemik om kinders te bemagtig in terme van groter padveiligheid.
Volgens William Sam, een van die organiseerders, het ongeveer 800 kinders die geleentheid bygewoon en hulle Kersgeskenkies ontvang. Op Maandag, 20 Desember is 'n verdere 200 pakkies uitgedeel.
Die Mossel Bay Community Soup Drive het Maandag ook uitgereik na Karos Haven, 'n versorgingsentrum vir bejaardes.
Lenise Hendricks (middel) Davene Anderson (links) en Beyonce Prinsloo wat beide opgetree het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'