MOSSELBAAI NUUS - Die St Blaize-staproete is 'n 13,5km staproete wat ongeveer ses ure neem om te voltoot. Die roete, het al lewens geeis, hetsy per ongeluk of bewustelik.
Stappers wat nie vertroud is met die staproete van die Punt van Mosselbaai tot by Danabaai nie, moet hulself vergewis van die gevare op die roete.
Die roete loop langs die kuslyn en 'n groot gedeelte daarvan is op die kruingedeelte van die kranse, sowat 30m bokant seevlak.
Verskeie paadjies gaan wel af na die see toe, maar stappers word nie aangeraai om na die seevlak te gaan nie.
Erosie het baie van die paadjies na seevlak uitgespoel en kanse om te gly is groot.
In die afgelope paar jaar, is ook verskeie rooftogte aangemeld deur booswigte wat in die omgewing opgemerk word.
Dié tendens is egter reeds aangespreek en die operasionale personeel van die Sentrale Verbeteringsdistrik (CID) patrolleer die roete gereeld.
Hulle is veral sigbaar tydens vakansies. Daar is ook oorhoofse kameras op die roete geïnstalleer wat gemonitor word.
Volgens Theuns Schutte, 'n gesoute stapper wat die roete sedert 2000 al baie gestap het, is dit een van die groot aantrekkingskragte van Mosselbaai vir toeriste en vakansiegangers.
"Die spesifieke grot waar die tragedie plaasgevind het, word die tonnelgrotte genoem. Soos alle grotte, hou grotte op sigself gevare in, verduidelik Schutte.
Hy sê dat die grotte bereikbaar is deur 'n klofie, maar dat die rotse verder verby die grotte baie gevaarlik en glad kan wees.
Schutte se beste raad vir stappers is om op die roete te bly. Hy het deur die jare nog geen probleme gehad nie.
Hy neem gereeld groepe sonder winsbejag op die staproete om hierdie interessante natuurskat te promoveer. Naby die water, is dit egter 'n ander saak en gee hy goeie raad aan voornemende stappers.
Wenke vir stappers op die roete
Indien die roete gestap word, moet dit verkieslik meer as twee persone in die stapgeselskap wees.
Selfoonkommunikasie is beperk naby die seevlak, maar op die roete is opvangs goed.
Vermy seevlak veral op hoog- of spring hooggety. Die risiko kan soveel verminder word indien die getye gelees word.
Vermy die grotte indien jy nie vertroud met die spesifieke grot is nie.
Pofadders en geelslange kom voor. Veral pofadders is lief om in die paadjie te lê. Kyk maar vooruit as jy stap.
Sterk winde kom voor en kan mens nogal verras is sekere van die klofies.
Neem baie water saam, 'n hoed en sonbrandolie.
Sorg dat jou foon se battery vol gelaai is vir 'n noodgeval.
Stappers moet reël om opgelaai te word aan die ander kant indien hulle net eenrigting stap.
Goeie stapskoene word aanbeveel angesien van die rotse baie skerp is.
Indien die roetes laatmiddag of voor sonop gestap word, neem 'n flits saam.
"n Klein noodhulpsakkie met net die nodige neem nie baie spasie en kan tog 'n lewe red.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'