Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die gemeenskappe van Mosselbaai en Albertinia is geruk nadat twee jongmense van dié dorpe die afgelope langnaweek in tragiese voorvalle betrokke was.
Die 13-jarige Linton Standfort het op Saterdag, 19 Maart by De Bakke-strand op Mosselbaai verdrink. Die NSRI-reddingsboot het Standfort uit die water getel, maar hy is later op die strand dood verklaar.
Op Sondag, 20 Maart het die 21-jarige Arno van der Mescht, 'n inwoner van Albertinia saam met 'n groep vriende op die St Blaize-wandelroete gestap.
In die omgewing net onder die Mosselbaai-gholflandgoed het die groep 'n ander paadjie gevolg om na 'n grot te gaan kyk toe hy deur 'n fratsbrander van die rotse geslaan en in die see beland het.
FOTO'S - Soektog na vermiste 21-jarige
Van der Mescht is sedertdien nog nie weer gesien nie. 'n Grootskaalse soektog is geloods en teen die ter perse gaan is sy liggaam nog nie gevind nie.
VIDEO - Somersee vat vir Arno
‘n Fratsbrander het Arno van der Mescht van hierdie rots (foto onder) af geslaan.
Naweektragedie tref vyf goeie vriende
Arno van der Mescht (21) wat op Sondag, 20 Maart deur 'n fratsgolf van 'n rots op Mosselbaai geslaan is en in die see verdwyn het, het kort voor die voorval nog sy nuwe paar sokkies vir een van sy stapmaats aangebied omdat dié nie sokkies vir die onbeplande staptog gehad het nie.
Arno het op die betrokke dag saam met Cornelia Botha (47), haar seun en dogter, Shawn Botha (27) en Shaney Schubbe (24), Schubbe se vriend Hugo Pieterse (21) en nog 'n vriend, Jaco Klaassen (25) vanaf Albertinia na Mosselbaai gereis omdat hulle graag die dag by die see wou deurbring.
Almal is van Albertinia behalwe Hugo. Hy en Shaney is tans studente op George.
Hulle het op die ingewing van die oomblik besluit om na 'n grot naby die St Blaize-wandelroete te stap.
Die vriendekring was voorheen by die betrokke grot, maar wou graag vir Cornelia gaan wys hoe dit daar lyk.
Cornelia het nie stapskoene by haar gehad nie en Shaney het toevallig 'n paar oefentekkies in die voertuig gehad en dit vir haar aangebied.
"Sy het egter sokkies gekort en Arno het 'n splinternuwe paar by hom gehad wat hy vir haar gegee het om aan te trek. Dít is presies die tipe mens wat Arno was," het Shawn die afgelope week aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Fratsgolf
Die grot is aan die onderkant van die Mosselbaai Gholflandgoed en die St Blaize-wandelroete geleë en nie bereikbaar op die roete self nie.
Met hul aankoms by die grot om ongeveer 14:40 het Arno en Jaco vooruitgeloop en buite sig van die res van die groep, op 'n rots gestaan terwyl hulle vir die geselskap gewag het.
"Die branders was in daardie stadium nie hoër as twee meter nie," vertel Jaco. Hy sê Arno het by 'n waterpoel op die rotse gebuk toe 'n fratsgolf hulle tref. Jaco vertel dat die golf hom sowat 3m ver op die rotse geslaan het en Arno vermoedelik die see ingesleep het, want hy was nêrens te siene nie. Jaco het skrape aan sy bene opgedoen.
Die golf het ook die res van die groep getref en volgens Cornelia het sy op daardie oomblik gedink dat niemand die voorval gaan oorleef nie.
Die vyf vriende van Arno van der Mescht. Van links is Shawn Botha, Jaco Klaassen, Cornelia Botha, Hugo Pieterse en Shaney Schubbe. Foto: Jannie du Plessis
Hulp ontbied
Hugo, Cornelia en Shaney het dadelik na wonings in Cecil Sheppardstraat gehardloop om hulp te ontbied.
'n Grootskaalse soektog is deur verskeie reddingspanne van stapel gestuur. Soek-en-reddingspanne het die afgelope week met behulp van reddingsbote, helikopters en hommeltuie en te voet die kuslyn langs die see gefynkam, maar teen die ter perse gaan was Arno steeds vermis.
Sy vriende is verslae en het berading ontvang.
Cornelia sê die vriendekring bestaan uit wonderlike jongmense en ongeag haar ouderdom, het hulle haar altyd deel van die groep gemaak.
Arno is oorspronklik van Kaapstad, maar het na hulle verhuis het, by Albertinia Hoërskool skool gegaan. Voor Covid-19 het hy op 'n plaas in die Albertinia-distrik by die Swarts-familie gebly en gewerk en het daarna by sy tannie, Elize Steyn op Albertinia gaan woon. Hy en Shawn het later hul eie blyplek gekry en het as ontbossers op 'n plaas gewerk.
Beide Arno se ouers is oorlede en was hy die enigste kind.
"Arno was soos 'n broer vir my. Ons het saam grootgeword," het Nick Steyn, Arno se neef op die toneel aan die Advertiser gesê.
"Arno was 'n ongelooflike mens. 'n Nederige, vriendelike en voorbeeldige man wat respek vir almal gehad het, ongeag geslag of ras. Sedert sesjarige ouderdom het ons hom gereeld in die Kaap gaan haal dat hy vakansies by ons kon deurbring," vertel Nick.
Die Mosselbaai-polisiestasie het intussen 'n dossier vir 'n vermiste persoon geopen.
Jaco Klaassen, Shawn Botha en Hugo Pieterse.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'