MOSSELBAAI NUUS - "Dit is ongeveer 100 dae sedert die raadslede van hierdie raad tydens 'n luisterryke byeenkoms ingesweer is en die ampseed afgelê het. Dit is daarom net gepas om te reflekteer oor ons prestasies tot dusver," het die uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé tydens die maandelikse raadsvergadering op Donderdag, 24 Februarie gesê.
Die eerste 100 dae-verslag is 'n informele merker vir hoe die nuwe raad die doelwitte bereik wat hulle in die uitvoerende burgemeester se GROW-strategie onderneem het.
"Ek wil die verteenwoordigers van al die deelnemende politieke partye bedank vir hul positiewe bydrae tot politieke stabiliteit – hierdie raad moet as 'n eenheid funksioneer om ons diverse gemeenskap te dien," het Kotzé benadruk.
Mosselbaai-munisipaliteit het 'n gemeenskapsveiligheidsinisiatief geloods wat ten doel het om wet en orde in ons gemeenskap te herstel.
'n Gesamentlike operasionele sentrum (JOC) sal binnekort funksioneel wees om op drie funksies te fokus – om insidente te bestuur; om dienslewering te verbeter, en om inligting te bestuur. 'n Bestaande gebou is as 'n JOC heringerig en sal binnekort ten volle funksioneer.
Uitgebreide onderhandelinge het meegebring dat die provinsiale verkeer, verteenwoordigers van die SAPD en ander wetstoepassingsdissiplines in die gekombineerde fasiliteit sal vestig om reikwydte en reaksietyd op voorvalle te verbeter.
Die raad het ook die verhoogde sigbaarheid vir wetstoepassing goedgekeur deur personeel toe te rus en die wetstoepassingsvoertuie behoorlik te merk.
Vir verhoogde reaksietyd is 'n brandweerwa en personeel na Hartenbos gedesentraliseer.
Die veiligheidsvennote speel 'n belangrike rol in die bekamping van misdaad en daarom word buurtwaggroepe bygestaan om gepas te registreer en by die Mosselbaai -veiligheidsinisiatief aan te sluit – 35 van 44 het reeds geregistreer.
"Ek het ons administrasie opdrag gegee om te verseker dat elke munisipale projek ons pragtige dorp moet bemark."
Dit is bemoedigend dat Mosselbaai die voorkeurbestemming vir semigrasie is, wat meebring dat meer professionele persone hierheen verhuis en dus tot die munisipale fiskus bydra.
Wêrelderfenisstatus
Inisiatiewe van vorige termyne van die raad kom nou tot uitvoering. Die nasionale regering het onlangs toestemming verleen dat die Pinnacle Point-grotte tot 'n Wêrelderfenisgebied verklaar kan word. Mosselbaai se Pinnacle Point - wat spreek van die vroegste bewyse vir moderne menslike gedrag - is in 2013 tot Provinsiale Erfenisterrein verklaar.
Erfenis Wes-Kaap het 'n aansoek in 2015 geloods om die Pinnacle Point-grotkompleks tot Wêrelderfenisgebied te verklaar.
Verskeie inisiatiewe met die regulerende owerhede sal nou volg. Die Wêrelderfenisstatus sal 'n merkbare invloed op die plaaslike ekonomie en veral die toerismebedryf hê.
"Ons plaaslike ekonomie het gebaat by Mosselbaai Toerisme se bemarkingsveldtog om binnelanders hierheen te lok. Toerismeverskaffers is positief, die meeste het hul teikens betreffende inkomste en verwagtinge gedurende die afgelope somervakansie oorskry.
Talle meen dat dit die beste seisoen was sedert die Covid-19 inperkingsbeperkings ingestel is en sommige het 'n vyf-jaar-rekord aangeteken.
Voorbereidings vir die Ironman 70.3 in November is in volle swang en meer as 1 500 atlete het reeds ingeskryf.
Die MosJazz-fees vind oor die naweek van 17 Maart hier plaas. In Mei bied Mosselbaai die Suid-Afrikaanse nasionale skopbokskampioenskap aan.
Elke direktoraat het hul ooreengekome 100 dae-teikens bereik. Dit het die aanstelling van sleutelpersoneel soos die munisipale bestuurder, Colin Puren, ingesluit. Die direktoraat korporatiewe dienste werk ook hard aan die vernuwing en professionalisering van die munisipale identiteit, beeld en herhandelsmerk - meer hieroor later.
Bekostigbare behuising bly 'n groot kopseer en die vordering met die Louis Fourie Korridor-ontwikkeling, Suid van Louis Fourieweg, op pad na Danabaai is verblydend. Hierdie ontwikkeling is 'n behoorlike dorpsuitbreidingsprojek wat verskeie grondgebruike van residensiële, kommersiële, sosiale en openbare geriewe behels. Dit sal private en staatsbeleggings lok.
Die raad het 'n betalingsvakansie vir die 12 maande goedgekeur om die poskantoor in staat te stel om vanuit die nuwe uitbreiding van die Thusong-sentrum die gemeenskap te bedien.
Die munisipaliteit deel in die provinsiale elektrisiteitsveerkragtigheidsprojek. Ses munisipaliteite word deur die provinsiale regering ondersteun om in die toekoms 100Mw krag van onafhanklike elektrisiteitsverskaffers (IEP's) te bekom.
Dit behoort Mosselbaai minder afhanklik van Eskom te maak en die risiko van beurtkrag te verminder - sodoende word die plaaslike ekonomie gestimuleer.
Infrastruktuurontwikkeling om in die huidige behoefte en voorgenome diensleweringsbehoefte van mense wat na Mosselbaai stroom te voorsien, vorder goed. Paaie word regoor die groter Mosselbaai herbou en/of opgeknap en die watertoevoerpyplyn vanaf die Klein Brak-watersuiweringsaanleg tot by Langeberg-reservoir is betyds voltooi.
Jongmense
Die jeug bly 'n skerp fokus, met die voetgangerbrug oor die R328 wat leerders probeer beskerm; die opening van 'n nuwe biblioteek in Brandwag en die loods van 'n satelliet-jeugkantoor in D'Almeida.
"Mosselbaai word gereeld geloof vir die netjiese, skoon voorkoms van ons dorp en ek bedank die personeel van die departement afvalbestuur wat geredelik oortyd werk, selfs op openbare vakansiedae en Kersdag om 'n besoek aan ons pragtige dorp onvergeetlik te maak.
"Ek bedank graag elke inwoner vir hul volgehoue, goeie betalingsgeskiedenis wat die raad in staat stel om aan die diensleweringsverwagtinge van ons gemeenskappe te voldoen," het Kotzé afgesluit.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'