MOSSELBAAI NUUS - AfriForum Midbrak Buurtwag het 'n persverklaring uitgereik na aanleiding van berigte in die media en sosiale platvorms ten opsigte van die stigting van 'n AfriForum Midbrak Buurtwag.
Op Dinsdag, 25 April, is 'n inligtingsvergadering rakende die voordele van 'n AfriForum Buurtwag gehou op aandrang van lede van die gemeenskap.
David Olivier, AfriForum se veiligheidsverteenwoordiger van die Suid-Kaap, het die vergadering toegespreek waar daar meer as 100 lede van die Midbrak-gemeenskap teenwoordig was. Daar is by dié vergadering ingestem dat 'n AfriForum Buurtwag gestig moet word.
'n Stigtingsvergadering is op 4 Mei gehou waarna die amptelike bevestiging van die stigting van die AfriForum Midbrak Buurtwag op 16 Mei deur AfriForum hoofkantoor plaasgevind het.
Daar was hewige teenkanting van die bestaande Midbrak Buurtwag teen die stigting van die AfriForum Midbrak buurtwag. Die kwessie van meer as een buurtwag in 'n area wat aanleiding gee tot verdeling van inkomste is een van die geskilpunte.
Die Departement van Polisie Oorsig- en Gemeenskapsveiligheid het op 22 Junie 'n vergadering by Grootbrak-polisie gehou om die onenigheid op te klaar waar dit duidelik gemaak is dat die stigting van die AfriForum Midbrak Buurtwag totaal wettig is. Daar is ingestem tot samewerking tussen al die betrokke partye in die gebied.
Die afgelope paar weke was daar egter 'n smeerveldtog teen die nuut gestigde en effektiewe AfriForum Midbrak Buurtwag.
Na aanleiding van verskeie bewerings, ongegronde gerugte, 'n media verklaring en selfs onregmatige arrestasies en aanhoudings, is 'n top-span prokureurs van Rauch Gertenbach besig om dit te ondersoek om klagtes te formuleer teen die vermeende skuldiges in dié verband.
AfriForum-lede is besig met siviele gedinge om die kwessie aan te spreek.
AfriForum Midbrak Buurtwag het dieselfde dag 'n prokureur aangestel om die buurtwag-patrollielede by te staan in die kriminele klag wat na bewering plaasgevind het.
Hierdie bewerings moet nog in 'n hof bewys word. AfriForum Midbrak Buurtwag verseker die publiek van hulle voortdurende ondersteuning en bystand teen misdaad in die AfriForum Midbrak Buurtwag-area. Hulle het ook dank uitgespreek teenoor die gemeenskap vir hul ondersteuning.
Indien u graag by die nuwe AfriForum Midbrak Buurtwag wil inskakel of 'n bestaande AfriForum lid in die Midbrak area is, kontak gerus vir Amanda per WhatsApp by 082 487 7077.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’