MOSSELBAAI NUUS - Hartenbos en Mosselbaai spog met heelwat skoonhede en meisies wat al hul merk in die modelwêreld gemaak het.
Vroeër jare het die dorp ook van die top prestige kompetisies aangebied en verlede jaar het die Mej Hartenbos Seefront die lig gesien.
Die finaliste en wenners het met bykans R250 000 se pryse weggestap en vanjaar is dit nog meer.
Vanjaar kry meisies van oral in Suid-Afrika weer die geleentheid om in te skryf en met top pryse weg te stap.
Die Mej Hartenbos Seefront word weer in samewerking met BLOSS Media aangebied. Die gewilde Brendan Pyper tree tydens die gala-aand op 29 Desember in die Walvissaal op. Tobi Jooste is die seremoniemeester en die aand se program beloof om 'n belewenis te wees.
Meisies tussen 18 en 25 jaar word genooi om in te skryf. Die inskrywingsvorm is aanlyn by www.bloss.co.za asook by die sentrumkantoor by die Seefront beskikbaar.
Die inskrywingfooi is R120 en die uitdunne vind op Donderdag, 23 Desember om 12:00 by die Sfm-buiteverhoog by die Seefront plaas. Deelnemers word genooi om in stranddrag, nie noodwendig swemdrag deel te neem nie.
Verlede jaar se wenner, die pragtige Simonè Koen van Mosselbaai, sal ook daar wees om die deenemers aan te moedig.
Verlede jaar het die finaliste weggestap met heerlike pryse. Hulle is ook bederf met ontbyte, salonbehandelings asook met haar- en grimeersessies. Die finaliste het ook die inwoners van 'n aftree-oord op Hartenbos met heerlike eetgoed bederf. 'n Hoogtepunt van die kompetisie was toe die finaliste tydens 'n ontbyt by Salt & Copper vir Mej SA en Mej Wêreld 2014, Rolene Strauss, ontmoet het. Verskeie glanspersoonlikhede is ook deel van die groep beoordelaars wat tydens die gala-aand in aksie sal wees.
Kaartjies vir die vertoning is op Quicket of by die sentrumkantoor beskikbaar. Indien jy lekker wil kuier, is tafels van 10 beskikbaar teen R1 400, dit sluit wyn en versnapperings in. Gewone sitplekke is teen R80 per persoon beskikbaar.
Vir navrae kontak Trudi Stander (079 232 9085).
Rolene Strauss, Mej SA en Mej Wêreld 2014 saam met ses van verlede jaar se Mej Hartenbos Seefront-finaliste by Salt & Copper waar hulle ontbyt geniet het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'