Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Bayview CSF (Community Safety Forum) wat voorheen as Bayview-buurtwag bekend gestaan het, is 'n nie winsgewende organisasie wat die veiligheid van Bayview en groter Sektor 2 area onder leiding van Da Gamaskop-polisiestasie, asook die GPF (emeenskapspolisieforum) van Da Gamaskop te harte dra.
Bayview CSF se bestuur en lede het 'n kameraprojek voorgestel om die buurt se veiligheid nog 'n hupstoot te gee.
Na vele kommunikasie met die munisipaliteit, donateurs en kontrakteurs is vyf kwotasies ingewin vir die installasie van veiligheidskameras.
Die eerste fase van die projek het verlede Donderdag, 13 Mei begin toe die eerste paal by die strandgebied van Bayview geplant en die kabels aangelê is. Die volgende dag is die tweede paal geplant. Die bestuur het op Wireless Alert besluit as gevolg van Johan Noeth se ondervinding, prys, asook nasorg-diens wat hy hulle kan bied.
Kyk 'n video hieronder:
"Heelwat donateurs wat self in Bayview woonagtig is het ook hulle gewig ingegooi met die installering van Fase 1 se infrastruktuur, in spesiaal Matt du Toit van SuidKaap Mini Diggers, Johan en Danie Schoeman van Schoeman Trio, Henning Marais van Techno Asphalt en iPatch en al die finansiële bydraes van die lede," sê Righardt Burger, voorsitter van die Bayview CSF. Heelwat lede en bestuurslede van die CSF het ook gehelp met die oop- en toemaak van die slote en die lê van die kabels.
"Die sekuriteitskameras gaan met groot agting vir die munisipaliteit se standaard, beleid en voorskrifte bedryf word," sê Burger. "Ons beeldmateriaal word gratis deur MSEC 24-uur gemoniteer en beeldmateriaal mag slegs verkry word deur die polisie indien daar 'n saak gemaak is en 'n saaknommer verskaf is."
Die kameras se tegnologie is van so aard dat sleutelpersone in kennis gestel gaan word indien daar menslike beweging is sekere tye van die aand- en oggend-ure. "Die polisie, Bayview CSF en sekuriteitsmaatskappye sal dan ontplooi word om sodoende voorkomend op te tree," sê Burger
Hulle beplan om die res van die fases se infrastruktuur voor einde Mei in die grond te kry. Die fases sal ook afgehandel word soos wat hul finansies daarvoor deurkom. Die forum se leuse is "van die gemeenskap aan die gemeenskap" en word bedryf deur 'n handjievol toegewyde lede wat hulle privaat tyd gee vir die sekuriteit en veiligheid vir die groter gemeenskap.
Burger vra dat enige huiseienaars wat nog nie op een van hul groepe is nie, die sekretaresse Hannelie Marais (072 301 7700) kan kontak. Daar kan ook met haar kontak gemaak word indien iemand 'n finansiële bydrae wil maak. Volgens Burger is hulle nog so 50% uitstaande om al die fases te voltooi.
"Ons as CSF gaan ook inskakel by die groter Mosselbaai se veiligheidsisteem wat herlei gaan word na 'n groter beheerkamer in Mosselbaai, helikopterbystand, asook radiokommunikasie vanaf Glentana regdeur tot by Albertinia. Groot lof aan ons munisipaliteit vir die dryf van hierdie inisiatief," sê Burger.
Hier is van die rolspelers by die eerste kamera wat 'n ogie sal hou oor die strandbedrywighede van Bayview. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'