MOSSELBAAI NUUS - Roelindi Pretorius was reeds onderweg na Potchefstroom vir haar wiskundestudies toe sy uitvind sy is een van die Wes-Kaap se gesamentlike drie toppresteerders in Afrikaans huistaal.
"Mamma, ek het 97% vir Afrikaans!" was haar reaksie toe sy op 13 Januarie by Hoërskool Punt die eerste keer haar matriekuitslae onder oë gehad het.
Vir iemand wie se gunstelingvak eintlik wiskunde is, was die aankondiging dat sy provinsiaal een van die bestes in Afrikaans is werklik 'n verrassing.
"Ek het nooit, nóóit, in my hele lewe gedink dit gaan gebeur nie," het sy Woensdag 4 Februarie vanuit Potchefstroom aan Mossel Bay Advertiser gesê.
Sy kon nie self die toekenningsgeleentheid bywoon nie, maar kon gelukkig die reg-streekse uitsending daarvan volg. "Ek het lekker gekyk in die kar. Dit was nogal crazy!"
Ma Roelien Pretorius en Roelindi met haar uitslae by Hoërskool Punt se vrystelling van die 2025-matriekuitslae. Foto: Linzetta Calitz
Sy deel die topposisie met Marise du Toit van Hoër Meisieskool Paarl en Marguerite Steenkamp van Hoërskool Stellenbosch - hulle het al drie 97% behaal.
Wie sou nou kon raai dat haar prestasie in Afrikaans haar ook sou bystaan met haar studies in wiskundige wetenskappe by die Noordwes-Universiteit?
'n R10 000- kontantprys was deel van die wennerspakket, en Pretorius het reeds planne daarvoor: "Ek wil baie graag 'n tablet koop, dit sal baie help met die tipe wiskunde wat ons gaan doen."
Sy bly privaat in Potch, maar het wel by 'n dagkoshuis, Bellatrix, aangesluit. Dit is nou nog oriëntering vir die eerstejaars, maar volgende week begin die klasse in alle erns.
Pretorius sê egter voor sy nog in Potch aangekom het, moes sy al reeds 50 uur se voorbereiding vir wiskunde doen; hulle skryf sommer op die derde dag van klas al 'n toets daaroor!
Sy is beide opgewonde én op haar senuwees oor hierdie nuwe hoofstuk.
Vir haar prestasie in Afrikaans en die kennis wat sy in haar huistaal opgedoen het is sy dankbaar, maar sy sê dié vak los sy maar in Mosselbaai agter - nou is dit wiskundetyd.
Maar nie sonder 'n laaste boodskap aan haar Afrikaansonderwyser, Helna Visagie, nie. "Baie dankie vir al juffrou se moeite, liefde en tyd wat juffrou ingesit het.
Juffrou het altyd gesê as juffrou heeltemal 'n kind ignoreer, dit op daai punt gekom het dat juffrou net nie meer kán omgee nie, want die kind gee glad nie (soos glád nie) hul samewerking nie.
Dit het wel selde gebeur, want juffrou se omgeehart kon net nie enige kind los om so 'n belangrike vak, wat tog hul toekoms bepaal, te druip nie. Ons is baie lief vir juffrou!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’