Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Bo en behalwe die pragtige natuurskoon wat 'n ooglopende trekpleister is, spog Ruiterbos nou met 'n nog meer unieke aanbieding vir natuurliefhebbers.
Op 18 November is die Western Cape Butterfly Sanctuary, 'n skoenlapper-reservaat amptelik deur die Wes-Kaapse minister van landbou, dr Ivan Meyer, geopen.
Die reservaat sal uiteindelik 4 000 skoenlappers huisves. Hieronder sal 50 verskillende plaaslike spesies wees, wat van die mees seldsames ter wêreld sal insluit. Dit sluit in die eurytela hiarbas f.vashti oftewel Ramsgate Piper, waarvan slegs 16 individuele spesies se bestaan tans bekend is.
Die reservaat sal uiteindelik ook 'n teelsentrum insluit wat dit met voltooiing die grootste skoenlapper-reservaat in Afrika, die Suidelike Halfrond en waarskynlik ook ter wêreld sal maak.
FOTOGALERY: Butterfly Sanctuary opened
'n Trotse oomblik vir Louise Nel toe dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou die skoenlapper-reservaat amptelik open. Foto: Jannie du Plessis
Grendeltyd
Louise Nel, die stukrag agter die reservaat en haar gesin woon reeds sewe jaar in Ruiterbos. Vanuit die staanspoor het hulle die omgewing se potensiaal as 'n veilige bymekaarkomplek vir die hele gesin raakgesien en begin ontwikkel.
"Mosselbaai is 'n bekende vakansiebestemming, maar ons wou toerisme ook deel van die landelike omgewing in Ruiterbos maak."
Een van hulle projekte om dit teweeg te bring was die Robinsonpasfees wat in Junie 2019 gehou is. Covid-19 het verdere ontwikkeling van die fees in die wiele gery.
Gedurende die grendeltyd, het die konsep van 'n skoenlapper-reservaat op Ruiterbos by die Nels posgevat.
VIDEO: Butterfly Sanctuary officially opened
"Ons het dadelik daarvan werk begin maak. 'n Skoenlapper-reservaat, volgens CBISA (Conservation of Butterflies in South Africa) speel 'n groot rol deurdat dit konsentreer op omgewingskwessies wat verband hou met alle Suid-Afrikaanse skoenlappersoorte, hul onderskeie habitatte en ekosisteme se gesondheid. In die natuur sal slegs 3% van die eiers wat gelê word, volwasse vlinders word. Maar as hulle teen roofdiere beskerm word, is die oorlewingsyfer byna 100%."
Nel sê dat minstes 10% van die skoenlappers wat by die reservaat uitbroei, in die natuur teruggeplaas sal word.
Konstruksie het in Desember 2020 begin op 23 Oktober vanjaar, het die eerste besoekers die reservaat betree. Dr Ivan Meyer het tydens die opening gesê dat alles met 'n idee begin, maar dat dit ontwikkel en suksesvol geïmplementeer moet word om lewensvatbaar te wees.
VIDEO: Mede-eienaar gesels oor Butterfly Sanctuary
"Idees is 'n besigheid en hierdie is beslis 'n uitsonderlike idee wat positief bydra tot die ekonomiese herstel van die Tuinroete na Covid-19."
Meyer het sy departement se volle steun aan die reservaat toegesê.
"Die reservaat is inheems en geskep met plaaslike kennis. Dit bevorder landbou en plaaslike ontwikkeling, veral landelik. Dit is iets anders, iets buitengewoon, iets in die denkeparadigma. Dit maak my bly," het Meyer afgesluit.
Wes-Kaapse minister van landbou, dr Ivan Meyer maak kennis met een van die skoenlappers.
Vorige artikel: Butterfly sanctuary officially opened
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'