Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Besighede, grondeienaars en inwoners van die gebied tussen Sonskynvallei en Klein Brak, word sedert Junie deur die baie reën wat paaie onbegaanbaar maak, gekortwiek om hul besighede te bedryf, skool toe of dorp toe te gaan om noodsaaklikhede te koop, en hul werk te doen.
Die Geelbeksvlei-laagwaterbrug in die Brandwagrivier is al geruime tyd oorspoel.
Inwoners meet die watervlak en bepaal of dit veilig is aan die hoogte van die wit sementblokke wat aan die kant van die brug uitsteek.
FOTOGALERY: Reën veroorsaak dat paaie onbegaanbaar is
Meegesleur
Die afgelope Maandagoggend, het Francois de Villiers, 'n inwoner aan die landelike-gedeelte van die laagwaterbrug, die brug probeer oorsteek terwyl dit nog donker was.
Hy vertel dat hulle die vorige middag nog kon deurry maar toe die water Maandagoggend halfpad teen sy bakkie se voorwiel was, het hy besluit om eerder agteruit te ry om uit te kom.
Maar die vloei van die water met die trurat ry, het veroorsaak dat die bakkie dwars geswaai het en deur die stroom meegesleur is. De Villiers sê hy het toe besef daar is moeilikheid, Hy het die bakkie se enjin afgeskakel en deur die venster uitgeklim. "Die water was yskoud, maar ek is darem veilig uit."
Die manne van Meyer Towing insleep-dienste was van die eerstes op die toneel en het die ysigkoue water trotseer om die bakkie suksesvol uit te sleep.
Gestrand
Intussen was Mila Gous (10), ook 'n inwoner aan die landelike-gedeelte van die laagwaterbrug, wat die vorige aand by 'n maat in Ruiterbos oorgeslaap het, op pad huis toe, maar was aan die anderkant gestrand voor die vol rivier.
Emile Meyer en sy broer Riaan wat steeds op die toneel was met die uithaal van die bakkie, het tot die jong Mila se redding gekom en nie geskroom om haar te gaan haal nie.
Emile het haar op sy nek deur die water na die ander kant van die rivier gedra.
Slagoffer geëis
Dieselfde laagwaterbrug het in November 2021 'n slagoffer geëis toe die 78-jarige Heinz Kemp in sy dubbelkatjuit-bakkie verdrink het, nadat sy voertuig deur 'n sterk stroom water by dieselfde laagwaterbrug meegesleur is.
Plantegroei belemmer riviervloei
Jean Stoker, die algemene bestuurder by die Outeniquabosch Lodge and Venue, sê dat hulle al sedert verlede jaar probeer om die Tuinroete Distriksmunisipaliteit te kry om iets aan die dik riete en plantegroei te doen wat die vloei van die rivier belemmer.
In plaas dat die water onderdeur die brug loop soos by die Botlierskop-brug naby Klein Brak, veroorsaak die welige plantegroei dat die water nou oor die brug vloei en dit lewensgevaarlik vir motoriste maak om met hul voertuie daaroor te ry.
"Ons werkers bly in Sonskynvallei wat net oorkant die rivier is. Ons ry nou elke dag twee maal 54km op baie slegte verspoelde paaie om hulle te gaan oplaai vir werk en later weer af te laai. Een van my werknemers se Gr 7-seun, het later sy klere uitgetrek en met sy skooltas op die kop oor die brug geloop, aan die anderkant sy skoolklere aangetrek, net om by die skool uit te kom.
"Dit gaan nou al sedert begin Junie so en met die reën wat ons tans kry, weet ons nie hoe lank dit gaan neem om die brug weer te gebruik nie," vertel Stoker.
Volgens Stoker het hy in April laas korrespondensie met die Tuinroete Distriksmunisipaliteit gehad wat aangedui het dat die skoonmaak van die plantegroei in hul beplanning is. Die gebied ter sprake is in die Mosselbaai-omgewing, maar val onder die Tuinroete vir dienste aan paaie en riviere.
"Dit maak nie sin nie, want ons is tog baie nader aan Mosselbaai as aan George. Ons is gefrustreerd en kwaad en is op die punt om self die plantegroei en riete met 'n laaigraaf uit te grawe en te verwyder. Dis asof niemand regtig omgee vir wat met inwoners buite die dorp gebeur nie."
Die sentiment word ook deur inwoners in Groot-Brakhoogte geopper waar die Voorbrug-grondpad met die baie reën in 'n gevaarlike, onrybare toestand is.
VIDEO - Jean Stoker, GM van die Outeniquabosch Lodge & Venue
VIDEO - Jean Stoker, GM Outeniquabosch Lodge and Venue
Geelbeksvlei Brug wat oorstroom het.
Die laagwaterbrug word deur die Brandwagrivier oorspoel en maak dit sedert begin Junie onmoontlik vir voertuie om deur te gaan. Foto's: Adri Gertenbach
Vorige artikel: Bakkie beland in Brandwagrivier
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’