MOSSELBAAI NUUS - Die stigting van 'n Mosselbaai Kuns en Kultuur Komitee is in die mees onlangse ope munisipale raadsvergadering bespreek.
Volgens die raadsitem oor die stigting van die komitee is die hoof doelwitte (onder meer) om vennootskappe met alle relevante rolspelers en belanghebbendes te vorm.
Die idee is ook dat 'n bestuursplan ontwikkel word, wat die volgende sal hanteer en reguleer:
• Kommunikasie tussen verskillende kuns en kultuur verenigings op Mosselbaai en omliggende areas.
• Verkry befondsing van verskillende organisasies en doen aansoek vir toelaes by die relevante provinsiale departemente.
• Opvoeding in die gemeenskap oor die diverse vorme van kuns en kultuur op Mosselbaai.
• Skakeling met die relevante rolspelers en belanghebbendes om te help met beter blootstelling vir plaaslike kunstenaars op Mosselbaai.
'n Nie-winsgewende (NWO) maatskappy sal gestig word om as regspersoon vir die komitee op te tree. Die komitee moet te alle tye minstens drie of 'n maksimum van sewe direkteure hê.
Om die registrasieproses aan te help is twee DA-raadslede, Niklaas Booisen en Marulyn Kannemeyer, genomineer om op die komitee te dien. Hulle sal saam met die direkteur van gemeenskapsdienste, Elize Nel, as die eerste drie direkteure van die komitee dien.
Daarna sal hulle vier addisionele "toepaslik gekwalifiseer/ervare" direkteure nomineer om ook op dié raad te dien.
Geen raadslede het besware teen die stigting van so 'n komitee nie, maar opposisiepartye het in die raad gevra dat nie net DA-raadslede deel moet vorm van die komitee nie.
Die PA het ook gevra dat die stigting van die komitee deur die proses van openbare deelname gaan. Die ANC het hierdie voorstel ondersteun.
Daar was 'n algemene konsensus onder die opposisie dat, omdat kuns en kultuur so belangrik is, dit oor alle spektrums van partye verteenwoordig moet word.
Die DA het gesê hy volstaan egter by die oorspronklike aanbevelings in die item vervat.
Raadslid Booisen het op sy beurt gevra hoekom die opposisie hulle nie voor die raadsvergadering al genader het om hierdie kwessie te bespreek nie.
By navraag aan die Mosselbaai-munisipaliteit oor die vereistes rondom publieke deelname vir sekere items het hy gesê publieke deelname word deur die Munisipale Stelselswet voorgeskryf en val die stigting van 'n nie-winsgewende maatskappy binne die Maatskappye Wet.
"Die munisipaliteit streef na effektiewe kommunikasie met die publiek en het hierdie item dan ook in 'n ope raadsvergadering gedien. Die stigting van dié NWO is om die kunste op Mosselbaai te bevorder en voortspruitend sal daar dus voortdurend met die publiek in die verband gekommunikeer word."
In terme van finansiële implikasies vir die munisipaliteit sal daar volgens die item R10 000 in die 2025/26 finansiële jaar aan die komitee toegeken word. Dit kan daarna vermeerder afhangend van die beskikbaarheid van fondse.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’