Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Baie mense geniet so af en toe ’n swemsessie in Die Punt se getypoel, maar op ’n koue wintersnag?!
Dít is net vir die braafste manne en vroue.
Dit was die afgelope naweek weer Tafelronde Mosselbaai se Polar Plunge by dié einste getypoel.
Vanjaar het dit op Mandeladag, 18 Julie, geval, wat die liefdadigheidsaspek van dié dag sommer aangewakker het.
Tafelronde nooi elke jaar lede van die publiek uit om saam met hulle op die koudste dag van die jaar by die getypoel in te spring.
Hiermee saam vra hulle ook vir skenkings van komberse. Die geleentheid vorm deel van Tafelronde Suider-Afrika se Winter Knights-veldtog vir die insameling van kos en komberse vir minderbevoorregtes.
Deelnemers aan die Polar Plunge spring dus in die yskoue water vir bewusmaking rondom die koue wat met winter gepaardgaan.
VIDEO: Die braafstes durf die water aan
Vanjaar het die plaaslike NSRI, oopwaterswemgroep Santos Seals, lede van Mosselbaai-toerisme sowel as die St. Blaize Leos die geleentheid ondersteun. Altesaam was daar sowat 50 mense wat die koue water aangedurf het, en nóg sowat 50 wat die geleentheid van buite die water ondersteun het.
“Baie dankie aan die gemeenskap van Mosselbaai vir die ondersteuning, jaar in en jaar uit, van ons Polar Plunge,” sê die voorsitter, Gert Theron.
Hy het raadsheer Anton Dellemijn ook spesiaal bedank. Hý het vanjaar sy 10de Polar Plunge voltooi.
Tafelrondelede sal later vanweek bekendmaak hoeveel komberse daar geskenk is. Indien jy nog komberse wil skenk, kontak Aydn Parrott by 079 149 4703.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’