MOSSELBAAI NUUS - Plaaslike dansers, Avalynn Mitchell (14) en Madison van Biljon (9) is gekies om aan die Italian Performing Arts-toer in Rimini, Italië, gedurende Julie deel te neem.
Die meisies is betrokke by die Steps Dance Academy op Mosselbaai.
Madison is 'n leerder by Laerskool Hartenbos en het begin dans toe sy vier jaar oud was, terwyl Avalynn aanlyn skoolgaan by die Think Digital Academy. Sy het begin dans toe sy tien jaar oud was.
"Sy het die huis vol gedans en ons het agterkom die toertjies wat sy doen, is baie goed," sê Madison se ma, Ronnette.
Madison is toe by Steps Dance Academy ingeskryf om te kyk of daar belangstelling is. Avalynn en Madison het mekaar by daardie skool ontmoet en het vinnig groot vriende geraak.
Die meisies doen albei die akrobatiese kunsvorm, 'n styl wat klassieke dans-tegniek met akrobatiese elemente kombineer.
"Avalynn het 'n belangstelling en begeerte gehad om toertjies en danspassies te doen. Sy was mal daaroor om na Anna McNulty te kyk, en het eendag vir my gesê sy wil soos 'n 'pool noodle' wees," sê Jeanine, Avalynn se ma. Anna McNulty is 'n Kanadese YouTuber en selfopgeleide kontorsionis.
Madison en Avalynn is baie gemaklik op die verhoog. Die meisies doen elke jaar die Eisteddfod onder Steps Dance Academy.
Madison van Biljon.
Verlede jaar het albei dansers aan die Eisteddfod sowel as Talent Africa deelgeneem, waar hulle in die nasionale kom-petisie gekwalifiseer het om internasionaal mee te ding.
Die meisies sê hulle bly aktief en volg 'n gesonde dieet. Hulle oefen drie tot vier keer per week by Steps Dance Academy, en het ook privaatlesse een tot twee keer per week.
Hoewel hulle senuweeagtig is, is die mei-sies opgewonde oor die geleentheid in Italië. "Avalynn is uit haar vel so opge-wonde is sy," sê Jeanine.
As ouers, is Jeanine en Ronnette ongelooflik trots op hul dogters. "Haar oë skitter en sy glimlag van oor tot oor. En ek huil elke keer as sy dans. Ons harte bars van trots," sê Ronnette van Madison.
Om so 'n reis te onderneem, vereis egter die nodige befondsing. Indien enigiemand bereid is om as borg op te tree kan hulle vir Jeanine (084 965 9229) kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’