MOSSELBAAI NUUS - Die nuutste gesig in Mosselbaai se munisipale raad som homself as godvresend, lojaal, bedagsaam en liefdevol op.
Eugene Kiewit (52), die nuwe raadslid vir die ACDP, is op 25 September amptelik tot die raad verwelkom ná sy voorganger, Jeanette Gouws, se bedanking.
Kiewit is getroud, 'n pa van vyf en ook as 'n pastoor georden.
As jong seun het hy in Mosselbaai se Danielstraat in uitbreiding 8 grootgeword en by Diaz Primêr skoolgegaan.
Hy het ook vir sowat drie jaar in die Kaap gewoon, maar het daarna weer na Mosselbaai teruggekeer waar hy 'n deel van sy hoërskoolloopbaan by Hillcrest voltooi het en later aan Hoërskool Sao Bras gematrikuleer het.
Hy sê sy neef, Joel Baker, het hom op 'n jong ouderdom in die Kaap aan die politiek blootgestel en hy het daar in die struggle betrokke geraak. Dit was met sy terugkeer na Mosselbaai, so op die ouderdom van 16, dat hy by die kerk betrokke geraak het en ook sy hart vir die Here gegee het, vertel hy.
Vandag is sy politiek en sy geloof een. As pastoor is hy betrokke by die South African Gospel Mission-kerk in D'Almeida, en hy het in 2011 by die ACDP aangesluit.
Gevra wat die grootste uitdaging vir iemand in 'n raadslidposisie is, sê hy: "Om die gemeenskap te dien en dan by jou woord te hou."
Hy verduidelik: "Jou woord is jou eer. Dit bepaal wie jy is. Jou karakter speel 'n groot rol - as 'n mens iets vir die verkeerde redes doen, is dit moeilik om by jou woord te hou."
Hy ken al vir Gouws sedert sy beginjare by die ACDP en sê sy het 'n goeie standaard gestel met haar gesindheid in die raad.
As familieman sê hy hy geniet dit om sy vrye tyd saam met sy gesin te spandeer: sy vrou, Estralita, sy oudste en enigste seun, Joydon (19), en dan sy dogters, Kelly-Ray (16), Azaliah-Kelah (15), Eri-Esli (9) en die jongste, Dayahna (2).
Eugene Kiewit, sy seun, Joydon, en vrou, Estralita. Foto: Dexter Brinkhuis
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’