MOSSELBAAI NUUS - ’n Leerder van Curro Mosselbaai se 2020-matriekklas, Anlo Ferreira, is Sondag 26 Oktober in ’n helikopterongeluk in die Noord-Kaap oorlede.
Curro het ’n huldeblyk op sy sosiale media gedeel en gesê hy hou Anlo se familie in sy gedagtes, veral sy ma, Malanie, wat al jare lank daar skoolhou.
“Anlo sal vir sy warm persoonlikheid, goedheid en die vreugde wat hy aan dié rondom hom verskaf het onthou word. Mag julle vertroosting in die liefde en ondersteuning van die Curro-familie vind.”
Boodskappe van medelye het sedertdien ingestroom van inwoners wat sê hulle hou Anlo se familie in hul gedagtes, en ander wat getuig van die passievolle jong man wat Anlo was.
Die familie het gesê hulle sal op ’n latere stadium ’n huldeblyk lewer.
Volgens die Burgerlugvaartowerheid het die ongeluk in die Kuruman-heuwels in Daniëlskuil in die Noord-Kaap plaasgevind. Drie mense is in die ongeluk oorlede - Anlo was die vlieënier, en saam met hom in die helikopter was die wildsveearts dr. Alwyn Venter en veeartsassistent Angelo Robbertse.
Die oorsaak is nog onbekend en word tans ondersoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’