Omstanders beweer 'n wit voertuig het vanuit die Vleesbaai afrit voor die aankomende polisievoertuig, wat in die rigting van Kaapstad onderweg was, ingedraai. In 'n poging om nie met hierdie voertuig te bots nie, het die bestuurder van die polisievoertuig na bewering na links om die wit voertuig geswenk.
Die polisievoertuig het toe 180 grade oor die N2 getol en voor 'n aankomende ligte afleweringsvoertuig beland. Die afleweringsvoertuig het van agter teen die polisievoertuig gebots. Twee persone wat agter op die afleweringsvoertuig gery het, is na wat verneem word in die slag van die bakkie afgeslinger en het op die ryvlak beland.
Die passasiers en drywer is na 'n plaaslike hospitaal geneem. Hulle is intussen ontslaan en het reeds na Kaapstad teruggekeer.
Die SAPD KwaNonqaba polisiewoordvoerder, sersant Nomzi Jika, het bevestig dat die polisielede in 'n plaaslike hospitaal opgeneem is.
Na wat verneem word, het kst Christopher Mars die polisievoertuig bestuur en Ao Liezel Coetzee het as passasier voor langs hom gesit. Reservis kst Jerome Jansen het agter in die voertuig gery. Beide Ao Coetzee en kst Mars is intussen uit die hospitaal ontslaan.
Volgens die kommunikasiebeampte van die Wes-Kaapse Departement Gesondheid, mev Nadia Ferreira, is kst Jansen op Dinsdag, 19 November met ‘n nekbesering vir behandeling in die George-hospitaal opgeneem. "Die pasiënt is in ‘n bedenklike toestand," het mev Ferreira berig.
Volgens 'n ooggetuie het die bestuurder van die wit voertuig, wat na bewering voor die polisievoertuig ingery het, egter nie by die ongelukstoneel stilgehou nie.
Die SAPD KwaNonqaba ondersoek 'n saak van roekelose, nalatige bestuur en versoek enigiemand met inligting oor die voorval om met speurder Ao Kabous Oosthuizen by 044 606 5607 in verbinding te tree.

Mosselbaai se reddingsdienste was gou op die toneel en het die beseerdes na plaaslike hospitale afgevoer.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'