Update
MOSSELBAAI NUUS - Lukas du Preez (66) se gebaar van liefde aan sy vrou, Marinda (64) wat sedert Julie in die Life Bay View privaat hospitaal vir Covid-19 behandel is, het verbeeldings plaaslik en internasionaal aangegryp.
Nadat die Mossel Bay Advertiser op 21 Julie 'n video van Du Preez wat vroegoggend trekklavier buite die hospitaal se Covid-19-saal speel op sosiale media geplaas het, het dit soos 'n veldbrand tot in die buiteland versprei.
Marinda is Saterdagoggend, 14 Augustus in die hospitaal op Mosselbaai oorlede nadat sy die koronavirus net nie kon klop nie.
Nuus van haar afsterwe, het soos haar man se "serenade vir die siekes", vinnig versprei en groot reaksie uitgelok. Medelye van onbekendes, aangeraak nie net deur Du Preez se passie vir sy vrou nie, maar ook deur sy nostalgiese musiek, het van oraloor ingestroom.
Volgens Charlotte Barnard, 'n administratiewe werker by die hospitaal wat die eerste video van Du Preez aan die Advertiser beskikbaar gestel het, was hy elke tweede dag getrou op sy pos om sy trekklavier te speel.
LEES MEER: Musiek uit die hart
'n Emosionele Du Preez het kort na Marinda se afsterwe gesê dat hulle sukkel met aanvaarding en voel of hulle gebede nie verhoor is nie, maar besef dat alles seker deel is van 'n breër plan.
"Covid is 'n verskriklike siekte. Ek weet nie hoekom dit haar so erg geaffekteer het nie. Teen die einde het sy baie swaargekry. Haar hart het net stadiger en stadiger begin klop," het Du Preez verduidelik.
'Beste mens ooit'
Du Preez het na Marinda verwys as "in alle opsigte die beste mens" wat hy en hulle drie kinders ooit geken het. In lewe, vertel Du Preez, was Marinda se geloof onwrikbaar en sy het alles feil gehad vir haar gesin en medemens. Die egpaar was 40 jaar getroud en hulle gesin, besonder heg.
Marinda was baie sportief en het uitgeblink as marathonatleet. Saam het die egpaar 10 Comrades-marathons aangepak en ook deelgeneem aan beide die New York- en Londen-marathons, waar Marinda Suid-Afrika al as veteraan-atleet verteenwoordig het.
LEES MEER: Serenading at Hospital again
"Ek gee nie nou meer om vir verdere publisiteit nie. Die trekklavierspelery was maar 'n manier om te kommunikeer, terwyl sy my nog kom hoor. Obviously is dit nou verby. Genoeg is nou eers genoeg. Respekteer asseblief my liefde vir my vrou en my en my kinders se nagedagtenis aan haar," het Du Preez aanvanklik Dinsdag by navraag aan die Advertiser gesê.
Lukas du Preez en sy oorlede vrou, Marinda.
Ommekeer
"Jy onthou Campus Crusade? Wel hierdie is Marinda se crusade. Ek gaan op 'n roadshow na hospitale toe."
Du Preez het na 'n gesprek met sy seun en nadat hy oorweldig is deur die roerende kommentaar op sosiale media, 'n ommekeer van hart beleef. Hy het die Advertiser teen druktyd opgeriumd geskakel en vertel van sy voorneme om sy vrou se lewe te vier.
"Ek gaan 'n klein camper huur, ons twee Yorkies oplaai en deur die land van hospitaal tot hospitaal ry en daar trekklavier speel om mense te bemoedig. Maandag begin ek by Life Bay View. Julle kan kom as julle wil," het Du Preez eksklusief voor druktyd aan die Advertiser gesê.
Hy het gesê dat hy na sy vrou se dood, 'n erge geloofskrisis beleef het.
"Ek wou net alles los, maar het besef, dis nie wat Marinda sou wou gehad het nie. Die belangrikste is steeds, hierdie gaan nie oor Lukas nie. Ek doen dit, vir haar."
Die Du Preezs neem Sondag, 22 Augustus afskeid van Marinda. Lukas du Preez is 'n arbeidsadvokaat en woonagtig in George.
Lukas du Preez (rooi bostuk) bid op 23 Julie saam met 'n groep, waaronder pastore en familielede van Covid-19-pasiente terwyl Jannie du Plessis van die Mossel Bay Advertiser 'n video-opname maak.Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'