Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Mosselbaai sal dié naweek 'n miernes van bedrywighede wees wanneer een van die grootste sportgebeurtenis op die plaaslike kalender, die Isuzu Ironman 70.3, op Sondag, 19 November, aangebied word.
Na verwagting sal ongeveer 2 500 atlete deelneem en sowat 8 000 besoekers dié skouspel bywoon.
PHOTO GALLERY: Isuzu Ironman 70.3
'n Groot groep plaaslike deelnemers van en om Mosselbaai sal vanjaar aan dié kompetisie deelneem.
Die Mossel Bay Advertiser het met 'n paar van hulle gesels in die aanloop tot dié byeenkoms.
Clarisa Botes, 'n plaaslike student, het verlede jaar ingeskryf, maar nie deelgeneem nie. Sy het egter genoem dat sy vanjaar hard geoefen het en slaggereed is om haar beste te lewer. Sy sien veral uit na die hardloopgedeelte, wat vanjaar op 'n nuwe roete beslis word.
Richard Karsten, 'n plaaslike sakeman, moedig mans en vroue in die sport aan om volgende jaar vir die kompetisie in te skryf. Dit sal sy tweede Ironman wees en hy sien uit daarna om vanjaar te sy stempel af te druk. Hy wens alle deelnemers voorspoed toe met vanjaar se geleentheid.
Maryke Janse van Rensburg is 'n intern-biokinetikus en veelsydige sportvrou. Haar liefde vir perdry moes sy opsy skuif om as werkende vrou voor te berei vir die Ironman. Sy bedank ook die organiseerders, vrywilligers en die publiek wat die atlete tot by die eindstreep sal dra.
Die getroude paartjie, Jako en Tharina de Hart, het gesê dat hulle inspirasie gekry het nadat hulle toeskouers was by verlede jaar se kompetisie en toe besluit het om albei vanjaar in te skryf. Jako het gesê dat hulle geseënd is met gesondheid en fiksheid en moes inskryf. Tharina het genoem dat voorbereidings vir die Ironman baie tyd verg en baie beplanning en toewyding in die huwelik vereis.
Biokinetikus, Elsa van Velden, het gesê dit is haar tweede jaar in die wedloop. Sy gaan egter hierdie jaar net daarheen om dit te geniet en sien daarna uit om weer deel te neem.
Die Isuzu Ironman 70.3 bestaan uit drie fases:
- 1.9km swem (Santos tot De Bakke).
- 90km fietsroete (De Bakke tot Herbertsdale – wat Louis Fourieweg, die N2 in die rigting van Kaapstad en die R327 beïnvloed).
- 21.1km hardlooproete (De Bakke tot by Die Punt – wat die sentrale gedeelte van Mosselbaai beïnvloed).
Die hoofgebeurtenisse se tydskedule is soos volg:
- Die professionele mans se swem-item begin om 06:30.
- Die professionele vroue-item begin om 06:35.
- Atlete in ouderdomsgroepe begin om 06:45 in 'n rollende formaat (10 deelnemers begin met 10-sekonde-intervalle vanaf 06:45 tot 07:20).
- Oorgang 1 (swem na fiets) sal atlete hê tussen 06:55 en 08:30.
- Die fietsroete sal atlete hê tussen 06:55 en 13:00.
- Oorgang 2 (fiets na hardloop) sal atlete hê tussen 09:00 en 13:00.
- Die hardlooproete sal atlete hê tussen 09:00 en 15:55.
Vir meer inligting en reëlings in verband met roetes besoek die webblad: https://www.ironman.com/im703-mossel-bay
VIDEO - Plaaslike atlete gesels oor die Isuzu Ironman 70.3 kompetisie
Foto: Jannie du Plessis
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’