MOSSELBAAI NUUS - Die pas-afgelope ondertekening van 'n tweelingstadooreenkoms met Denpasar, die hoofstad van Bali het talle voorblaaie in Indonesiese media gehaal, tekenend van die waarde wat ook daar aan die geskiedkundige ooreenkoms geheg word.
Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal het tydens die laaste raadsvergadering vir 2019 op Vrydag, 29 November gewys op die sukses van die onderhandelinge en gevra dat werk gemaak moet word van die ooreenkomste sodat Mosselbaai se inwoners die waarde daarvan kan beleef.
'n Gesamentlike werkskomitee is tot stand gebring om die implementering van verskeie voorgestelde projekte te fasiliteer.
Onder meer sal op kulturele en toerisme uitruilprojekte en kreatiewe ekonomiese ontwikkelingsplanne gefokus word.
"Daar is veral voordeel te put uit die toerismepotensiaal vanuit Indonesië en gesamentlike handelsmerke en -advertensies en reklame kan vir beide stede voordelig wees. Indonesië neem reeds gereeld aan die gewilde Diasfees deel met hul kleurryke nasionale danse. Die geleentheid bestaan nou vir Mosselbaai om ons kultuur en tradisies ook in Indonesië meer effektief uit te dra en te bemark. Indonesiese burgers toer graag, Mosselbaai het heelwat te bied met ongeëwenaarde klimaat en 'n ongeskonde omgewing."
As 'n tegnologies baie gevorderde gemeenskap, kan heelwat geleer word by die 'smart city' benadering van Denpasar. Daar is talle voorbeelde van stedelike hernuwing en veral die wyse waarop op riviere gefokus is vir herlewing en opgradering.
Geleenthede vir invoere en uitvoere is nou meer as ooit, en benewens sake-ontwikkeling sal ook in mense belê word deur verskeie programme. Tydens die raadsvergadering het die burgemeester sy tevredenheid uitgespreek met die suksesvolle ooreenkomste wat met Denpasar gesluit is. "Die Wes-Kaapse LUR vir landbou, minister Ivan Meyer het trouens tydens sy besoek aan Mosselbaai vir die ondertekening van die pakt gesê die sukses van die onderhandelinge, wat oor 'n besondere kort tydjie met groot sukses deurgevoer is, kan toegeskryf word aan die werkywer en talent van Mosselbaai se munisipale personeel. Minister Meyer het gesê Mosselbaai se mense besef nog nie wat die omvang van die waarde is wat opgesluit is in dié ooreenkoms nie. Aan almal wat by die proses met Denpasar betrokke was wil ek sê; julle bydraes en dienslewering word raakgesien," aldus die burgemeester.
Raadsheer Levendal het beklemtoon dat die ondertekening van die verdrag met Denpasar geen partypolitieke inslag het nie. "Wat ons hier vermag het, sal almal in Mosselbaai tot voordeel strek. Ek sien uit na die suksesse wat op die onderhandelinge, ooreenkomste en werksgroepe sal volg."
Verskeie koerante en sosiale media in Indonesië het voorbladdekking aan die geskiedkundige ooreenkoms gegee, tekenend van die waarde wat in Indonesië daaraan geheg word.
Verskeie koerante en sosiale media in Indonesië het voorbladdekking aan die geskiedkundige ooreenkoms gegee, tekenend van die waarde wat in Indonesië daaraan geheg word.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'