MOSSELBAAI NUUS - In 2021 het Jannie du Toit, ter viering van 50 jaar op die musiekpad, in samewerking met die ATKV en Vonk Musiek ’n opwindende projek aangekondig.
Die rock/blues-weergawe van sy bekende ’n Liedjie vir jou, wat Karen Zoid in 2018 saam met hom opgeneem het, was vir hom die inspirasie om ’n kompetisie te loods met die fokus op liedjies wat hy oor die afgelope halfeeu geskryf het.
“Ek wil graag hoor hoe ander jong musikante my liedjies, soos Karen gedoen het, transformeer,” sê Jannie.
Die idee is nie om die woorde en wysie totaal te verander nie, maar dat die liedjie nuut gemaak moet word deur daaraan ’n jazz-, rock-, blues-, rap- of dalk techno-klank te gee. Ook a capella- of instrumentale weergawes van die liedjies kan ingeskryf word. Jongmense in die buiteland wat Afrikaanse wortels het of enigeen wat in ons taal en musiek belang stel, mag natuurlik deelneem.
Die groter Mosselbaai spog met baie talent onder sy jeug. Dus is hierdie die ideale geleentheid vir jong Mosselbaaiers om hul talent ten toon te stel en vir die kompetisie in te skryf.
Gratis deelname
Deelname is gratis en daar is tyd tot en met Vrydag, 13 Mei om inskrywings af te rond en ’n MP3 via die webwerf in te stuur. Die kompetisie, ’n Nuwe Baadjie, het op 13 Desember 2021 afgeskop, die dag waarop Jannie sy 70ste verjaarsdag gevier het.
Dit is daarom uitsluitlik gemik op sangers en musikante van 35 jaar en jonger en die idee is dat hulle een van Jannie se liedjies neem en daarvoor ’n nuwe baadjie aantrek.
Op die webblad www.nuwebaadjie.co.za is daar 50 MP3s van Jannie se liedjies geplaas waarmee jong kunstenaars kan eksperimenteer deur een of meer liedjie/s van hulle keuse op te kikker en ’n nuwe baadjie daarvoor aan te trek.
Prysgeld
Prysgeld in die kompetisie is R30 000 vir die wenner, R20 000 vir die naaswenner en R10 000 as derde prys, wat ’n stewige hupstoot vir jong kunstenaars kan wees. Dié pryse word deels befonds deur een van Jannie se groot aanhangers in Australië, ’n Engelssprekende oud-Suid-Afrikaner, Jack Bantjes, wat Jannie op dié manier wil bedank vir sy “inspirerende musiek” en ook vir Jannie se werk as ’n aangename herinnering aan Jack se Suid-Afrikaanse erfenis.
Benewens die kontantprys sal die 12 finaliste se verwerkte liedjies op ’n album onder Jannie se JNS-musiekhandelsmerk opgeneem word, en vervaardig en versprei word deur Vonk Musiek, ook op wêreldwye kuber-platforms.
Die 12 kunstenaars sal verder die geleentheid kry om ’n ATKV-werkswinkel wat oor twee dae strek, by te woon.
Tydens die werkswinkel sal Jannie en van sy kollegas die deelnemers help om hulle weergawes te verfyn en gereed te kry vir die gala-aand, waar elke finalis die geleentheid sal kry om dit voor ’n gehoor aan te bied.
Besoek www.nuwebaadjie.co.za vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'