MOSSELBAAI NUUS - ’n Omsendbrief van die Nasionale Tesourie oor subsidies of toelae wat munisipaliteite aan nieregeringsinstansies betaal, het uitgebreide bespreking in die Mosselbaai-stadsraad tot gevolg gehad.
’n Raadsitem oor dié dokument, Omsendbrief 131, het in die jongste ope munisipale raadsvergadering op 24 April gedien.
Die omsendbrief het betrekking tot Artikel 67 van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) wat maatreëls gee rondom die betaling van fondse aan nieregeringsorganisasies.
Departemente lewer kommentaar
Ná kommentaar van verskillende departemente, insluitende finansiële dienste en regsdienste, is die besluit wel geneem om kennis van die omsendbrief se inhoud te neem en volgens van daardie riglyne te funksioneer. Sodra so ’n omsendbrief amptelik deur die raad aangeneem word, bind dit die munisipaliteit tot daardie riglyne. Die munisipaliteit gaan die omsendbrief egter nie amptelik in sy geheel aanneem nie.
Volgens regsdienste se kommentaar verskaf die omsendbrief duidelikheid in sekere areas, maar betree ook grys areas wat nie net so aanvaar kan word nie.
Regsdienste sê die bylaag tot die omsendbrief verwys byvoorbeeld na spesifieke skenkings aan organisasies sonder om die meriete van elke skenking in ag te neem en dit teen die beginsels soos in die omsendbrief vervat word, te meet.
Moontlik negatief
“Die breë stelling in die bylaag dat die spesifieke tipes skenkings wat genoem word ’n voorsieningskettingbestuursproses moet volg, kan munisipaliteite moontlik negatief raak indien die ouditeur-generaal hierdie omsendbrief gebruik as ’n riglyn om munisipaliteite se skenkings te oudit en dit dan as onreëlmatig beskou,” sê regsdienste.
Die tipe organisasies in die bylaag genoem kan onder meer plaaslike instansies soos Mosselbaai Toerisme, die gesamentlike beheersentrum (JOC), die DBV en die sportraad insluit.
Sluit aan by riglyne
In die raadsitem is dit onder meer aanbeveel dat die raad kennis neem van die beginsels uiteengesit in Omsendbrief 131 en hom aansluit by die riglyne wat deur die Nasionale Tesourie uitgereik is soos dit betrekking het op Artikel 67 van die MFMA en in die besonder:
• oordragte wat ingevolge Artikel 67 gemaak word, moet niekommersieel wees en nie die verskaffing van goedere of dienste aan die munisipaliteit behels nie.
• alle verkrygings van goedere of dienste, selfs van nieregeringsorganisasies of organisasies sonder winsoogmerk, moet in ooreenstemming met Artikel 217 van die Grondwet en Hoofstuk 11 van die MFMA verwerk word.
• Die gebruik van Artikel 67 as ’n plaasvervanger vir verkrygingsprosedures is onreëlmatige uitgawes en stel die munisipaliteit bloot aan risiko van finansiële wangedragondersoeke en potensiële strafregtelike aanspreeklikheid.
Ander aanbevelings sluit in:
• dat enige sulke skenkings vir die oorblywende deel van die finansiële jaar apart hanteer sal word en teen die riglyne, soos uiteengesit, gemeet word. Regsadvies sal ook vir elke skenking ingewin word voor dit aan die raad voorgelê word.
• dat die munisipaliteit se skenkings- en toelaebeleid hersien word.
• dat die munisipaliteit die dien van ’n raadslid of werknemer as direkteur van maatskappy sonder winsoogmerk herbesoek, indien en wanneer nodig.
• dat die munisipaliteit daar waar onsekerheid steeds teenwoordig is, ‘verklarende verligting’ soek in terme van skenkings or oordragte aan spesifieke entiteite. Dit kan toerisme, die JOC en ander soortgelyke entiteite insluit. Die doel hiervan is om duidelikheid te kry en regsblootstelling in terme van sulke oordragte te verminder.
Partye stem nie saam
Opposisiepartye het hul kommer uitgespreek oor die feit dat hierdie omsendbrief van Nasionale Tesourie af kom en die munisipaliteit dit nie amptelik wil aanvaar nie.
Die VF Plus het versoek dat stemme individueel getel word om duidelikheid te kry oor presies wie die item ondersteun. Alle DA-raadslede het dit ondersteun. Raadslede van die ANC, VF Plus en PA was teen die item, en Icosa en die ACDP het hul stemme weerhou.
Die raadslid vir die ACDP, Jeanette Gouws, het onder meer haar kommer uitgespreek oor die posisie waarin die munisipale bestuurder geplaas word, siende dat hy as rekenkundige beampte van die munisipaliteit optree en aanspreeklik gehou kan word.
Die burgemeester, Dirk Kotzé, het onder meer gesê hoewel hulle met die beginsels saamstem, maak omsendbriewe soos hierdie dit moeilik om organisasies te ondersteun, maar dat die munispaliteit ook versigtig moet wees om nie sy skoon oudits te verloor nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’