GROOT BRAKRIVIER NUUS - Die Santa-kleuterskool in Groot-Brak is 'n projek wat uit 'n werklike behoefte aan voorskoolse sorg ontstaan het.
Die skool, sowat drie jaar gelede deur Goals NPO, 'n organisasie sonder winsoogmerk, gestig, is die droom van John en Carmen Jacobs, wat die leemte in hul gemeenskap raakgesien het nadat 'n ander kleuterskool in die area gesluit is.
Die oorspronklike gebou was in 'n vervalle toestand, maar danksy ruimhartige skenkings van individue, plaaslike sakeondernemings en ander organisasies, is die perseel opgeknap en omskep in 'n veilige en stimulerende ruimte vir kinders.
Vandag voorsien Santa-kleuterskool daagliks aan 53 kinders opvoedkundige sorg, voeding en 'n veilige speelomgewing.
Die kleuterskool groei steeds, maar met hierdie groei kom daar ook uitdagings. Daar is tans 'n tekort aan voedselvoorrade, en die skool doen 'n nederige beroep op die gemeenskap om betrokke te raak.
Enige ondersteuning - hetsy in die vorm van kos, tyd of finansiële bydraes - sal met groot waardering ontvang word.
'n Groentetuin is reeds begin om meer volhoubaar te funksioneer, maar daar is steeds 'n behoefte aan hulpbronne om aan die kinders se daaglikse behoeftes te voldoen.
Indien iemand direk met die bestuur in verbinding wil tree, kan John by 071 743 6903/073 146 4874 of Carmen by 060 855 9337 geskakel word. 'n E-pos kan ook aan jjjohnjacobs122@gmail.com gestuur word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’