GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Groot-Brakrivier RVK se nuutgestigde Fan Klub het onlangs 'n beseerde speler, Justin Williams, oftewel 'Biggy' of 'Yummy', soos die gemeenskap hom ken, met 'n skenking verras.
Die klub het R5 000 ingesamel om te help met Williams se mediese kostes ná hy 'n nekbesering opgedoen het.
Mae Koert, die klub se sekretaresse, sê hulle het die Fan Klub tot stand gebring om spelers te help.
"Die Fan Klub is gestig om na veral spelers uit te reik wat hulle in hierdie tipe situasies bevind, hetsy finansieel of vir ander benodighede. Ons sou graag alle beseerdes wou help, maar op hierdie stadium is dit ons nie beskore nie."
Sy het die Groot Brak-gemeenskap vir hulle ondersteuning van die klub se kosverkope tydens tuiswedstryde bedank, asook die borge wat nie skroom om by hierdie tipe fondsinsamelingsprojekte betrokke te raak nie.
Koert sê hulle gaan voort met hierdie inisiatief, en enigeen wat 'n bydrae wil maak, is welkom om haar by 079 840 3614 te kontak.
Justin Williams (links bo) en diegene betrokke by die Fan Klub se fondsinsameling.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’