Gallery
MOSSELBAAI NUUS - 'n Droom het waar geword vir een van die onderwysers by Ridgeview Primêre Skool in Alofstraat, New Sunnyside, Mosselbaai.
Met 'n behoefte aan 'n biblioteek het Jadé Marthinus besluit om aksie te neem en met die hulp van die personeel van Ridgeview Primêre Skool, is dié nuwe biblioteek tydens 'n funksie geopen op Vrydag, 10 Mei.
Luchille Pick het met haar openingsboodskap gesê dat die tema vir die dag is "die krag van vroeë lees", en dit voorgehou aan die gaste in die vorm van 'n storie met die naam "die boek van hoop".
Al die gaste het daarna die biblioteek besoek waar die lint geknip is.
Dr Beatrice Treurnight, wat die volgende spreekbeurt gehad het, het al diep spore in die onderwys gelaat. Onder andere het sy in George skool gehou en ook plaaslik op Groot-Brakrivier. Tans is sy 'n leerondersteuningsadviseur.
In die vorm van 'n gedig wat sy voorgelees het, het sy die verwikkelinge rondom die biblioteek saamgevat.
"Spesiale konneksies maak 'n meetbare inpak, om op droomvlerke 'n wonderwerk te bewaarheid," sê sy. Sy het Marthinus en haar span geluk gewens met die biblioteek.
FOTOGALERY: Nuwe bibleoteek by Ridgeview Primêr geopen
DIe hoofspreker vir die aand was Chrystal-Donna Roberts, bekende verhoog- en rolprentaktrise, met produksies en films soos Romeo en Juliet Unplugged, Rondomskrik, Getroud met Rugby, Sewende Laan en Kratoa.
Roberts het vertel dis vir haar 'n eerste om 'n gasspreker by 'n opening van 'n biblioteek te wees, maar dis was vir haar baie spesiaal. Met familie, wat vroeër jare van Mosselbaai afkomstig was, was haar oupa ook by een van die skole 'n opsigter.
"Vir my is dit 'n vol sirkel wat nou voltooi is," sê Roberts.
Aktrise, Chrystal-Donna Roberts, knip hier saam met skoolhoof, Sharlton Groenewald, die lint vir die opening van die nuwe biblioteek by Ridgeview Primêre skool.
Iemand het dadelik uit die gehoor gesê: "Hierdie skool, hy was hier by Ridgeview, Vicky Roberts." Volgens Roberts het sy as jong kind deur 'n veldjie moes stap om by die Kensington biblioteek uit te kom en was opgewonde oor al die boeke en opsies.
"Ek was altyd honger vir nog inligting, nog stories, nog karakters, nog wêrelde," vertel sy. "Toegang tot boeke help ons groei, dit maak wêrelde oop." Dit is my liefde vir boeke en stories wat my gelei het tot waar ek vandag ook 'n skrywer is."
Skoolhoof Charlton Groenewald het al die borge bedank voor die gaste deur leerlinge bedien is met smaaklike geregte.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’