MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se ATKV-tak Langsous het onlangs by die jaarlikse Kultuurkuier van al die ATKV-takke ’n nasionale toekenning ontvang.
Die funksie het op Woensdag, 14 Mei, by die ATKV Goudini-oord plaasgevind.
Langsous het ’n sertifikaat gewen vir sy oorspronklike, innoverende Lees en Leer-projek, wat ’n paar jaar gelede begin is en wat deur die tak se ondervoorsitter, Cyril Scholtz, bestuur word.
Die takvoorsitter, Claire du Plessis, verduidelik dat Langsous besluit het om dringend iets daaroor te doen toe die 2021 Pirls-navorsing daarop gedui het dat 81% van gr. 4-leerders in Suid-Afrika nie met begrip kon lees nie.
Ouers
Du Plessis sê: “’n Kind begin om te lees in gr. 1. Ons het in ’n paar skole begin om met die ouers te praat.”
Vergaderings is met dié ouers gereël, en hulle is aangemoedig om hul kinders op ’n paar maniere te help lees.
Du Plessis het verlede week haar laaste van hierdie vergaderings vir die jaar gehou.
“Ons verstaan dis ’n groot sprong van gr. R tot gr. 1. In gr. R leer die kinders deur speel.
"Dan is daar in gr. 1 roosters en spertye en ’n program en meer gelees. Ons vertel die ouers dis vir hulle kinders ’n groot aanpassing, en ons gee leerwenke.”
Du Plessis moedig die ouers aan om hul kinders biblioteek toe te neem, waar hulle stil moet sit, konsentreer en lees. “
"Leer jou kind luistervaardighede, memorisering, gebede en daaglikse roetines - wat volg ná wat.”
Sy stel ook voor dat kinders geneem word om inkopies te doen.
“Só leer hulle wat goedkoop en duur is, om etikette op produkte te lees, om in ’n lyn te staan en goeie maniere te toon, en om ‘ekskuus’ te sê.”
Informele lesse
Du Plessis beklemtoon dat hierdie tipe informele lesse balangrik is. ’n Kind het ook roetine en dissipline nodig, soos ’n spesifieke badtyd en opstaantyd.
Die ATKV-tak Langsous sal vir uitslae en terugvoering vra om te sien of die program suksesvol was.
“Ons het in die laaste kwartaal verlede jaar ouers en onderwysers gevra watter kinders grensgevalle is en wie sukkel, en die ouers ontmoet en geörienteer om onderwysers te help en kinders te ondersteun,” sê Du Plessis.
Takke van Namibië en SA word deur een persoon per tak by die nasionale konferensie verteenwoordig.
Scholtz, wat Langsous verteenwoordig het, moes op die verhoog oor die Lees en Leer-projek praat. ’n Onderhoud is met hom gevoer.
Die ATKV se werk bestaan uit vier gedeeltes: onderwys, taal en lees, die kunste en maatskaplike werk in die gemeenskap. Langsous het die toekenning onder die onderwysafdeling gewen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’