MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se Luwellen Marx (56) se droom om op TV te verskyn het waar geword toe hy by seisoen twee van die kykNET-program, Die Brug, aangesluit het.
Dit is 'n werklikheids-program van 'n groep vreemdelinge wat moet saamwerk om 'n brug na 'n skat ter waarde van R1 miljoen te bou.
Ongelukkig is Marx egter vroeg uitgeskakel, en het hy die kans om daardie geld te eien verbeur, maar hy sê tog sy ingeperkte ervaring was onvergeetlik.
Toe hy gevra is of hy verwag het om so gou uitgeskakel te word, het hy geantwoord: "Die spel was so onvoorspelbaar, ek was voortdurend bang om op enige stadium of op enige dag uitgestem te word."
Hy sê die ervaring het hom leierskap en veerkragtigheid geleer.
Vir die kykers tuis hoop hy sy tydjie op die program was 'n les om enigiets met integriteit te doen.
Marx hou vol dat hy dit alles weer sou doen sou hy die kans kry.
Die tweede seisoen van Die Brug word elke Donderdagaand op kykNET uitgesaai.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’