MOSSELBAAI NUUS - Yanda Mphapha, ofte wel 'Da voice', droom daarvan om landswyd bekendheid met sy talent as kletsrymer (rapper) te verwerf.
Die 27-jarige inwoner van Sonskynvallei meen ook hy is anders as ander kletsrymers in die sin dat hy sy medekunstenaars in dié industrie wil help uitstyg.
Mphapha het reeds vir hom 'n ateljee met die nodige toerusting ingerig en stel in hierdie stadium sy liedjies op sy YouTube-kanaal, Davoice Channel, bekend.
"Ek het lank gevat om my eie ateljee te kry, en dis iets wat ek al lankal begeer."
"Ek het invest in my talent met die hoop dat ek eendag my familie sal onderhou deur musiek te maak vir 'n inkomste." Hier noem hy veral sy seuntjie, Lee-Yandré (7), en dogtertjie, Angel (1). "Ek wil hulle alles gee."
Dan wil hy ook ander jong mense help om hul drome in die musiekbedryf te bereik, en sê sy ateljee is oop vir almal. "Ek wil eendag graag my eie music label registreer as God se wil daarby is."
Hy werk tans as 'n vragmotorbestuurder, maar span ná ure sy kreatiwiteit in om 'n inkomste uit sy ware passie te maak. "Ek is 'n rapper met 'n goeie persoonlikheid en kom deur baie pyn in die lewe, soos om 'n moeder te verloor. Ek gee baie om vir die next persoon, ek het groot respek vir my elders en is plat op die aarde."
Mphapha sê sy inspirasie kom van kletsrymers soos Cream Machine en Hemelbesem, beide Suid-Afrikaanse kunstenaars. Dié twee kunstenaars, sê hy, het die talent binne-in hom aan die brand gesteek.
Hy self het op laerskool in die koor gesing en rap al sedert hy 13 was.
Sy liedjie "God se soldier" is sy gunsteling onder dié wat hy al opgeneem het.
"My proses van liedjies skryf begin eintlik om eers 'n topic te vind waaroor die song gaan en dan brainstorm ek daaroor en kyk wat relate met die topic. Van daar af vind ek woorde wat rym om daai topic beter te beskryf en meer daaroor te vertel.
"Ek raak graag topics aan wat soms gebaseer is op realiteit en soms gaan dit oor my skills in hip-hop om creativity te gebruik om punchlines en metaphors te gebruik om rappers en mense te wys dat ek dit met 'n passie doen.
"Ek wil die Wes-Kaap oorvat in rap music en oorvat met my musiek tot ek die hele Suid-Afrika in my hand het."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’