MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai het die afgelope Sondag sewe van sy laerskool-leerders met 'n helde-ontvangs terugverwelkom ná ongelooflike vertonings, wat die afgelope Vrydag en Saterdag in Germiston by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe vir laerskole opgedis is.
Tyroyd Arendse (13) en Jordan Sydon (13) is as nuwe SA kampioene gekroon terwyl Chioma Offor (9) van Curro self met 'n goue medalje kan spog vir haar bydrae in die aflos vir meisies o.10.
Sydon se goue medalje in die 80m hekkies, het ook 'n nuwe SA rekord opgelewer in 'n item waar hy hard deur sy Laerskool Park-spanmaat, Miguel Prins (13), gejaag is om self 'n silwermedalje los te nael.
Beide het ook in die hoogspring uitgeblink waar hulle onderskeidelik die vierde en vyfde posisies losgespring het.
Arendse van Diaz Primêr het ná sy skittervertoning in die 800m vir seuns o.13 dit opgevolg met 'n verdienstelike vierde posisie in die 1500m. Behalwe vir Offor se goue medalje in die aflos, het sy ook silwer verower in die 100m vir haar ouderdomsgroep.
Chioma Offor van Curro Mosselbaai.
Jessica van Zyl van Milkwood Primêr het ook nie op haar laat wag nie en kon ná die gewigstoot vir o.13-meisies self met 'n silwermedalje spog terwyl nog 'n Parkie, Mia Rossouw, derde geëindig het in die hoogspring vir o.12-meisies om die bronsmedalje in te oes.
In die diskusgooi het Van Zyl sesde geëindig terwyl Rossouw in dié item in haar ouderdomsgroep met die twaalfde posisie tevrede moes wees.
Nog 'n Parkie, Miané Schutte, het in die 75m hekkies vir meisies o.12 ook die 12de posisie behaal.
Behalwe dat Arendse en Sydon nou breëbors kan rondloop as SA kampioene, was dié byeenkoms vir hulle ook op 'n ander manier spesiaal en waar hulle ou bande kon optel.
Voor Sydon hom by Laerskool Park aangesluit het, was hy ook 'n leerder aan Diaz Primêr waar hy en Arendse saam rugby gespeel het.
Met die rugbyseisoen om die draai kan dié twee skitter-atlete dit perdalks later vanjaar op die rugbyveld verder voer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’