MOSSELBAAI NUUS - Op 12-jarige ouderdom het Luné Böhme begin met die boek, Reject(s), die eerste in 'n trilogie.
Dit is verlede jaar deur Mecs Publishing uitgegee, en jong Luné, nou 15 jaar oud, werk reeds aan die tweede boek.
Mossel Bay Advertiser het by hierdie aspirant skrywer aangeklop om meer oor haar en haar passie vir skryf uit te vind.
Wat was die motivering agter die skryf van die boek?
Ek is nog altyd lief vir lees en skryf. Gedurende die grendeltydperk het ek baie meer tyd spandeer aan boeke en films.
Dit het my gefassineer om myself in te dink dat een skrywer 'n hele wêrelde en karakters kon skep. Ek was deur ander se stories geïnspireer en het besluit om my eie storie te skep.
Reject(s) handel oor 'n meisie wat in pleegsorg grootword en dan na 'n koshuis toe gaan waar sy baie avonture beleef. Is daar dalk 'n rede vir dié tema?
Van my gunsteling stories gaan oor kinders wat op hulle eie voete staan en hul talente en vermoëns gebruik om teen die onregte van die wêreld te veg.
Ek het besluit om karakters te skep met interessante en buitengewone agtergronde om die lesers te inspireer om ondanks hul situasies te glo dat hulle tot enigiets in staat is wat hulle wil bereik.
Wat is een van jou gunsteling oomblikke in die boek?
My tweede gunsteling gedeelte in enige boek is wanneer al die los draadjies in die storielyn bymekaar kom en die leser vorm 'n gevolgtrekking.
My heel gunsteling is wanneer die leser se gevolgtrekking heeltemal verkeerd bewys word.
Vertel bietjie meer van die hoofkarakter?
Die hoofkarakter, Emily, is 'n diep denker met meer dapperheid as wat sy besef. Sy vind haar stem wanneer sy veg vir die dinge waarvoor sy die meeste omgee en ontdek dinge van haarself, haar skool en, onverwags, haar Engelse onderwyser.
Hoe vorder boek twee?
Die eerste weergawe van die tweede boek in die reeks is byna klaar. Ek beoog om die finale weergawe klaar te maak teen die einde van hierdie jaar. Dit is die tweede boek van drie en ek beplan om die trilogie volledig gepubliseer te hê voordat ek matrikuleer.
Vertel bietjie meer van jouself. Wat geniet jy om te doen en waarvan hou jy glád nie?
Ek is baie lief vir dans, kuns en die natuur. Ek doen ballet en moderne dans. Ek is vreeslik geïnteresseerd in kuns en die geskiedenis daarvan, asook verskillende lande en kulture. Ek gaan graag strand toe en hou van kamp, stap, swem en fietsry.
Ek is mal oor musiek en spandeer graag tyd met my vriende en familie. Hoewel ek dink winters noodsaaklik is, is ek nie 'n wintermaande-liefhebber nie.
Sonsopkomste lê baie naby aan my hart, maar vroeg opstaan in die reënseisoen is definitief nie een van my gunsteling aktiwiteite nie. Ek kom van Heidelberg in Gauteng waar ek langs die Blesbokspruit en tussen kosmosse grootgeword het.
Ons het in 2019 Hartenbos toe getrek en so baie wonderlike herinneringe gemaak. Ek dra die lewenslesse en waardes wat ek geleer het in beide dorpe met my saam en ek sou niks verander as ek kon teruggaan nie.
Ek is tans in Hoërskool Punt en is baie dankbaar vir my wonderlike vriende en onderwysers.
Waar kom jou passie vir lees/skryf vandaan?
Vandat ek geleer het hoe om te lees en skryf het ek begin en nog nooit opgehou nie. Ek het die boeke in my familie se boekrak gelees en gedigte uit my kop geleer. Ek het stories geskryf vir my jonger broer en suster en hulle het my gehelp om die prentjies te teken.
Ek het begin met Reject(s) toe ek twaalf jaar oud was en dit was gepubliseer toe ek veertien was - 2023. Ek het dit nie begin skryf met die oog om te publiseer nie, maar met my familie se aanmoediging en vriende se opgewondenheid, het ons besluit om die volgende stap te volg.
Weet jy al wat is jou planne ná skool? Wil jy 'n skrywer word of is dit bloot 'n stokperdjie?
Ek is nog nie seker wat om as my voltydse beroep te kies nie, maar ek weet dat ek verseker gaan aanhou skryf. Ek het so baie stories om te vertel en perspektiewe om te deel. Dit is my passie en al word ek ouer sal ek nooit die jong skrywer in my ontgroei nie.
Skakel Luné se ma, Leonie (076 905 4836), indien jy belangstel om 'n kopie van Reject(s) in die hande te kry.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’