MOSSELBAAI NUUS - Lian Fourie van Partyfest, die organiseerder van Matriekbaai, het Dinsdag op Mandeladag sy belofte gestand gedoen en 'n skenking van R20 000 aan Mosselbaai se Burgemeestersfonds oorhandig.
Die eerste Matriekbaai-geleentheid is in Desember 2022 gehou en met soveel sukses aangebied dat dit vanjaar weer op Mosselbaai aangebied sal word.
Matriekbaai word vanaf 2 tot 8 Desember aangebied en die aanverwante familiegerigte fees, AmfiHart op 9 en 10 Desember.
Volgens alle aanduidings sal Matriekbaai vanjaar weer so goed, indien nie beter as in 2022 ondersteun word. Tydens verlede jaar se Matriekbaai, het die jonges deelgeneem aan die Mosselbaai-munisipaliteit se strategiese doelwit om die omgewing te vergroen, deur bome te plant.
Die bome is in Sonskynvallei geplant. Tydens die tjekoorhandiging in die burgemeesterskantoor, was die direkteur gemeenskapsdienste, Elize Nel, asook die munisipale bestuurder, Colin Puren, teenwoordig.
Die Burgemeestersfonds het ten doel om behoeftes in die gemeenskap aan te spreek waarvoor nie andersins begroot word nie, soos onder meer om ontwikkelende jong sportmanne en -vroue wat dit andersins nie kan bekostig nie, by te staan om aan kompetisies buite hulle bereik, deel te neem.
Munisipale bestuurder Colin Puren, Lian Fourie, burgemeester Dirk Kotzé en direkteur gemeenskapsdienste, Elize Nel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’