MOSSELBAAI NUUS - Wil jy deel wees van die vreugde en hoop wat by 'n ouma of oupa gekweek kan word? Inwoners en belangstellendes van die Mosselbaai-gemeenskap kry die geleentheid om vanjaar 'n spesiale Kersfees vir 'n ouma en 'n oupa te verseker.
Dit is alles danksy die Ouma & Oupa Kersprojek, wat vir die eerste keer op Mosselbaai aangebied sal word. So kry mense die geleentheid om waardering te toon vir die belangrike rol wat senior burgers in die samelewing speel.
Die Ouma en Oupa Kersprojek is in 2018 in Vanderbijlpark gestig en het landwyd so uitgebrei dat dit as 'n nie-winsgewende organisasie (NWO) bedryf word. Die projek het begin as 'n eenvoudige idee om oumas en oupas gedurende die Kerstyd met 'n spesiale geskenkie te bederf.
Die belangstelling van skenkers was so groot dat die projek van daardie jaar 'n jaarlikse instelling op skenkers se kalenders geword het.
In 2018 is 1 700 geskenke in vier dorpe ingesamel. Van die begin het dit gesorg vir breë glimlagte en vreugde tussen die oumas en oupas se geselligheid. Die projek word nou reeds in 20 dorpe regoor Suid-Afrika deur koördineerders gelei.
Michélle van Wyk, oorspronklik vanaf Ermelo in Mpumalanga, was verlede jaar George se koördineerder. Vanjaar pak sy en Madelie du Preez die taak op Mosselbaai aan. Hulle werk saam met ACC Seebries Tehuis.
In kort werk dit as volg: Daar word na 'n tehuis vir bejaardes gegaan en elke ouma en oupa word genooi om 'n wenslysie vir Kersfees in te handig.
Dit kan enige item wees van seep, lekkers of selfs pantoffels. Die waarde van 'n geskenkboks beloop ongeveer R200 per boks. Die wenslysie word dan elektronies vanaf die koördineerder na die skenker gestuur. 'n Skenker kan enige ander bederf-items by die bestaande versoeke voeg.
Die geskenkpakkies sal dan gedurende 'n spesiale geleentheid (vroeg in Desember) aan bejaardes oorhandig word. In die toekoms sal die organiseerders graag na ander tehuise op Mosselbaai wil uitbrei.
Vul jou besonderhede by dié skakel in om 'n bejaarde se Kersfees spesiaal te maak: https://forms.office.com/r/0evPjfHmDC
Kontak Michelle (079 843 5771 of mswanepoelcat@gmail.com) of Madelie (061 232 7337 of maddybroodryk@gmail.com) vir meer inligting.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’