MOSSELBAAI NUUS - Strandpatrolliedienste en lewensredders is reeds op die vyf blouvlagstrande in die groter Mosselbaai ontplooi, en sal van 14 Desember ook op die ander gewilde swemstrande werksaam wees.
Die strandpatrolliedienste dien as die oë en ore van die munisipale wetstoepassers, maar met die opdrag om beleefd enige ongerymdheid wat teenstrydig is met die munisipale kennisgewings aan te spreek en, sou nie gehoor gegee word nie, op te tree deur óf die wetstoepassers of die SA Polisie te ontbied, indien nodig.
Die oogmerk van die strandpatrollie-dienste is om sigbaar te patrolleer en om deur hul teenwoordigheid 'n afskrikmiddel vir enige ongerymdhede te wees.
Die strandpatrollie-lede sal ook waar moontlik hulp verleen om die strandervaring so onvergeetlik as moontlik te maak. Lewensredders vra egter strandgangers se samewerking deur altyd op hul opdragte te reageer en streng in die aangewese swemarea te bly.
Sommige areas, soos onder meer die strand by Danabaai, is nie ideale swemstrande nie en vakansiegangers word dringend versoek om nie daar te swem nie. Die seestrome op Danabaai maak dit 'n baie gevaarlike strand, hoewel dit ideaal is vir lang ente se lekker loop langs die see.
Inwoners en vakansiegangers word versoek om te let op die riglyne vir honde op strande, asook die verbod op vuurwerke. 'n Dringende versoek word ook gerig dat strandgangers alle rommel van die strande sal verwyder.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'