Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Naomi Moller van Seemeeuvlug, Hartenbos, het 'n video geneem van 'n kwikstertjie wat elke dag 'n diederik-kuiken op haar stoep kom voer.
Die diederikkie (Chrysococcyx caprius) is 'n koekoek in die Cuculidae-familie. Hulle is bekend daarvoor dat hulle hul eiers in ander voëls se nessies lê en dan word hul kuikens deur die spesifieke voëltjie grootgemaak.
"Die volwasse diederik is woeste voëltjies en storm op ander voëls af as hul hier rondvlieg en vat kos uit die ander se bekkies uit. Ek gee vir hulle kossies maar hulle is so gestres oor ander voëls, hulle pik en kyk of alles nog veilig is voor hulle verder eet," sê Moller.
"Die kwikkie weet presies waar ek die kaas uithaal. As ek in die kombuis kom om die kaas te gaan haal wag hy al voor yskas waar ek die kaas bêre," vertel sy.
Volgens haar skreeu die kwikkie gereeld vir haar as daar ander voëls kom en dan moet sy hul wegjaag en spring hy op haar been. As hy te lank vir sy kossies moet wag en dan uit 'n ander voëltjie se bakkie eet, kry hy raas en gaan dadelik terug na sy eie bakkie. "Hulle is te kostelik," sê sy.
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'